Gaan na inhoud

Jakobus I van Engeland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf James I)
Jakobus I
Koning van Engeland, Ierland en Skotland
’n Portret deur Paul van Somer I (1576–1621)
’n Portret deur Paul van Somer I (1576–1621)
Titel Koning van Skotland
Regeer 24 Julie 156727 Maart 1625
Voorganger Maria I
Opvolger Karel I
Titel Koning van Engeland en Ierland
Regeer 24 Maart 160327 Maart 1625
Voorganger Elizabeth I
Opvolger Karel I
Huis Stuart
Eggenote Anna van Denemarke
Kinders Hendrik Frederik, Prins van Wallis
Elizabeth, koningin van Boheme
Karel I
Robert Stuart, Hertog van Kintyre
Gebore 19 Junie 1566; Edinburg-kasteel
Oorlede 27 Maart 1625; Theobalds House, Hertfordshire, Engeland
Vader Hendrik Stuart, lord Darnley
Moeder Maria I

Jakobus I (Engels: James I; 19 Junie 1566 - 27 Maart 1625) was van 24 Julie 1567 koning van Skotland (as Jakobus VI) en van 24 Maart 1603 koning van Engeland en Ierland, tot met sy dood in 1625. Hoewel hy lank probeer het om Brittanje en Skotland polities meer te laat verenig, het die twee lande soewereine state gebly, elk met sy eie parlement, wetgewende gesag en wette, met Jakobus as koning van albei. Hy is ook bekend as Jakobus VI en I.

Jakobus was die seun van Maria I van Skotland (Mary, Queen of Scots) en 'n agter-agterkleinseun van Hendrik VII, koning van Engeland en lord van Ierland, en dus 'n moontlike troonopvoler in al drie lande. Hy het op die ouderdom van 13 maande koning van Skotland geword nadat sy ma gedwing is om ten gunste van hom te abdikeer. Hoewel sy ma Katoliek was, is Jakobus as 'n Protestant grootgemaak.

Vier regente het names hom regeer totdat sy minderjarigheid in 1578 amptelik geëindig het, hoewel hy eers in 1583 volle beheer oor sy regering gekry het. In 1589 het hy getrou met Anna van Denemarke. Drie van hulle kinders het 'n volwasse ouderdom bereik: prins Hendrik Frederik, Elizabeth en Karel. In 1603 het Jakobus sy agterkleinniggie, Elizabeth I, die laaste monarg van die Huis van Tudor, opgevolg as heerser van Engeland en Ierland. Elizabeth het nie kinders gehad nie. Hy het 22 jaar oor al drie koninkryke regeer, 'n tydperk bekend as die Jakobeaanse era, tot met sy dood in 1625. Ná die verening van die krone was sy basis in Engeland (die grootste van die drie ryke) en het hy net een keer na Skotland teruggekeer, in 1617. Hy het die titel "koning van Engeland en Ierland" aanvaar. Tydens sy bewind het die kolonisasie van Ulster en die Amerikas begin.

Op 57 jaar en 246 dae was Jakobus se bewind in Skotland die langste van enige Skotse monarg. Hy het die meeste van sy doelwitte in Skotland bereik, maar moes groot probleme in Engeland oorkom, soos die Buskruitverraad in 1605 en konflik met die Engelse parlement. Onder Jakobus het die Elisabethaanse letterkunde en drama voortgeduur, met skrywers soos William Shakespeare wat tot die florerende letterkundige kultuur bygedra het.[1] Jakobus was self 'n woekerende skrywer wat werke soos Daemonologie (1597) en ander geskryf het.[2] Hy het die Engelse vertaling geborg van die Bybel wat later na hom genoem is, die Authorized King James Version.[3]

Jakobus is in sy tyd beskou as 'n "wyse man in klein dingetjies en 'n dwaas in belangrike sake". Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu is historici geneig om hom as 'n ernstige en intelligente heerser te beskou.[4] Hy was ernstig oor 'n vredesbeleid en het probeer om betrokkenheid by godsdiensoorloë te vermy, veral die Dertigjarige Oorlog wat die grootste deel van Sentraal-Europa verwoes het. Hy was die eerste Engelse koning van die Huis van Stuart en is opgevolg deur sy jongste seun, Karel I.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]
Jakobus as 'n seun.

Jakobus Karel Stuart is op 19 Junie 1566 in Edinburg-kasteel gebore as die oudste seun van Maria, koningin van die Skotte, en haar tweede man, Hendrik Stuart, lord Darnley. Jakobus was ’n afstammeling van koning Hendrik VII van Engeland deur sy oumagrootjie Margaret Tudor, die oudste suster van Hendrik VIII.

Maria se bewind in Skotland was onseker omdat ’n rebellie deur die Protestantse bevolking haar en haar man, wat Katolieke was, in die gesig gestaar het. Hendrik is op 10 Februarie 1567 vermoor. Maria was toe reeds ’n ongewilde koningin en dit is vererger toe sy op 15 Mei 1567 trou met James Hepburn, 4de Graaf van Bothwell, wat daarvan verdink is dat hy Hendrik vermoor het.

In Junie 1567 het Protestantse rebelle Maria gearresteer en sy het nooit weer haar babaseun gesien nie. Sy is op 24 Julie gedwing om te abdikeer ten gunste van haar seun. Haar buite-egtelike halfboer, Jakobus Stewart, Graaf van Moray, is as regent aangestel.[5] Haar seun is op 29 Julie 1567 op die ouderdom van dertien maande as koning Jakobus VI van Skotland gekroon. Hy is grootgemaak as lid van die Protestantse nasionale Church of Scotland.

In 1568 het Maria uit die tronk ontsnap en dit het gelei tot ’n kort tydperk van geweld. Die Graaf van Moray het Maria se troepe in die Slag van Langside verslaan. Sy het noodgedwonge na Engeland gevlug waar sy deur Elizabeth in hegtenis geneem en uiteindelik tereggestel is.

Jakobus op 20 jaar.

Bewind in Skotland

[wysig | wysig bron]

Hoewel die regentskap amptelik in 1578 geëindig het, het Jakobus nie volle beheer oor die regering gekry voor 1581 nie.[6] In Augustus 1582 het die verskeie grawe Jakobus na 'n kasteel gelok, hom gevange geneem en gedwing om ’n verklaring af te lê waarin hy verklaar dat hy nie gevange gehou word of teen sy wil aangehou word nie en dat niemand hom moet kom help nie.[7] Hy is in Junie 1583 vrygelaat en het daarna toenemend beheer oor sy koninkryk oorgeneem.

In 1586 het Jakobus die Verdrag van Berwick met Engeland gesluit. Dit en die teregstelling van sy ma in 1587 het dit vir hom moontlik help maak om later die Engelse troon te bestyg.

Huwelik

[wysig | wysig bron]
Koningin Anna omstreeks 1605.

In sy jeug is Jakobus geprys vir sy kuisheid omdat hy min belangstelling in vroue getoon het. Hy het die geselskap van mans verkies,[8] maar ’n huwelik was nodig om sy bewind te versterk. Die keuse het geval op die 14-jarige Anna van Denemarke, die jongste dogter van die Protestantse Frederik II. Hulle is op 23 November in die huwelik bevestig.

Jakobus was aanvanklik versot op Anna en het haar met geduld en deernis behandel.[9] Die koninklike egpaar het drie kinders gehad wat 'n volwasse ouderdom bereik het: Hendrik Frederik, Prins van Wallis, wat in 1612 op 18-jarige ouderdom oorlede is; Elizabeth, later koningin van Boheme; en Karel, die toekomstige koning Karel I van Engeland.

Anna was telkens siek, en van 1617 af ernstig. Jakabos het haar tydens haar laaste siekte net drie keer besoek. Sy is voor haar man dood, in Maart 1619.[10]

Vermeende hekse kniel voor koning Jakobus, uit Daemonologie (1597).

Heksejagte

[wysig | wysig bron]

Jakobus se besoek aan Denemarke, 'n land wat bekend was met heksevervolging, het 'n belangstelling ontketen in die studie van heksery,[11] wat hy as 'n deel van godsdiens beskou het.[12] Hy het die Noord-Berwick-hekseverhore bygewoon wat die eerste vervolging van hekse in Skotland was onder die hekserywet van 1563. Verskeie mense is aangekla van die gebruik van heksery om storms teen Jakobus se skip te stuur toe hy sy bruid in Denemarke gaan haal het.[13]

Jakabus het bekommerd geraak oor die bedreiging van heksery en het Daemonologie in 1597 geskryf. Dit is geïnspireer deur sy eie betrokkenheid wat die beoefening van heksery teengestaan het en die agtergrond verskaf het van Shakespeare se Macbeth.[14][15]

Jakobus het persoonlik toesig gehou oor die marteling van vroue wat daarvan beskuldig is dat hulle hekse is.[14] Ná 1599 het sy sienings skeptieser geraak.[16]

Hoogland en eilande

[wysig | wysig bron]

Die gedwonge ontbinding van die lordskap van die eilande deur Jakobus IV in 1493 het tot onstuimige tye vir die westelike kusgebied gelei. Jakobus IV het die georganiseerde militêre mag van die Hebride onderdruk, maar hy en sy onmiddellike opvolgers het die wil of vermoë ontbreek om 'n alternatiewe vorm van regering te bied. Gevolglik het die 16de eeu bekend gestaan as linn nan creach, oftewel “die tyd van strooptogte”.[17] Verder het die uitwerking van die Hervorming die Skotse Hoogland stadig bereik en dit het 'n godsdienstige wig ingedryf tussen dié gebied en "Sentrale" Gordel van Skotland.[18]

In 1540 het Jakobus V die Hebride besoek en die clanhoofde gedwing om hom te vergesel. Daarna het ’n tydperk van vrede gevolg, maar die clans het gou weer onderling gebots.[19] Tydens die bewind van Jakobus VI is die inwoners van die Hebride as wettelose barbare uitgebeeld, eerder as die wieg van Skotse Christendom en nasiebou. Amptelike dokumente beskryf die mense van die Hoogland as “sonder kennis van en vrees vir God” en geneig tot “alle vorme van barbaarse en dieragtige wreedhede”.[20] Gaelies, wat vlot gepraat is deur Jakobus IV en waarskynlik ook deur Jakobus V, het tydens Jakobus VI se bewind bekend geword as “Erse” of Iers, wat geïmpliseer het dat dit volksvreemd was. Die Skotse Parlement het besluit Gaelies is ’n hoofrede vir die tekortkominge van die Hooglanders en het dit probeer afskaf.[21]

Teen dié agtergrond het Jakobus VI in 1598 die edelman-koloniste van Fife gemagtig om die “mees barbaarse eiland Lewis” beskaaf te maak. Jakobus het geskryf die koloniste moes optree “nie deur ooreenkomste” met die plaaslike inwoners nie, maar deur “die uitroeiing van hulle”. Hulle landing by Stornoway het goed begin, maar die koloniste is verdryf deur plaaslike magte onder bevel van Murdoch en Neil MacLeod. Die koloniste het in 1605 weer probeer, met dieselfde uitkoms, hoewel ’n derde poging in 1607 suksesvoller was.[22]

Die Statute van Iona is in 1609 afgekondig, wat vereis het dat clanhoofde ondersteuning moes bied aan Protestantse predikante in Hooglandse gemeentes; dat barde verbied moes word; dat hulle gereeld in Edinburg moes rapporteer vir hulle dade; en dat hulle erfgename na die Skotse Laagland gestuur moes word om in Engelse Protestantse skole opgevoed te word.[23] So het ’n proses begin wat “spesifiek gemik was op die uitwissing van Gaelies en die vernietiging van die tradisionele kultuur”.[24]

In die Noordelike Eilande het Jakobus se neef, Patrick Stewart, Graaf van Orkney, die Statute van Iona teengestaan en is gevolglik gevange geneem.[25] Sy buite-egtelike seun, Robert, het ’n onsuksesvolle rebellie teen Jakobus gelei, en die graaf en sy seun is gehang.[26] Hul eiendomme is gekonfiskeer, en die Orkney- en Shetland-eilande is deur die kroon geannekseer.[26]

Letterkundige beskerming

[wysig | wysig bron]

In die 1580’s en '90’s het Jakobus die letterkunde van sy geboorteland bevorder. Hy het 'n verhandeling oor Skotse versleer in 1584 op die ouderdom van 18 gepubliseer. Dit was beide ’n poëtiese handleiding en ’n beskrywing van die digkunstradisie in sy moedertaal waarin Renaissance-beginsels toegepas is.[27] Hy het ook statutêre voorsiening gemaak om die onderrig van musiek te hervorm en te bevorder, aangesien hy die twee as verbind gesien het.[28]

Ter bevordering van hierdie doelstellings was Jakobus beide beskermheer en leier van ’n los groep Skotse Jakobeaande hofdigters en musici, wat William Fowler en Alexander Montgomerie ingesluit het, met Montgomerie as een van die koning se gunstelinge.[29] Jakobus was self ’n digter en was bly om as ’n praktiserende lid van die groep beskou te word.[30]

Teen die laat 1590’s het Jakobus se bevordering van die inheemse Skotse tradisie in ’n mate afgeneem weens die toenemende waarskynlikheid van sy opvolging tot die Engelse troon.[31] William Alexander en ander hofdigters het begin om hulle geskrewe taal te verengels en het die koning ná 1603 na Londen gevolg.[32] Jakobus se rol as aktiewe letterkundige deelnemer en beskermheer het hom in baie opsigte ’n bepalende figuur gemaak vir die Engelse Renaissance-poësie en -drama, wat ’n hoogtepunt tydens sy bewind bereik het, maar sy beskerming van die hoë styl in die Skotse tradisie is grootliks na die kantlyn geskuif.[33]

Bestyging van die Engelse troon

[wysig | wysig bron]
Die vereniging van die krone is ná 1603 in Jakobus se persoonlike wapen weerspieël, met 'n samesmelting van die Tudor-roos en die Skotse dissel.

Van 1601 af, in die laaste jare van Elizabeth se lewe, het sekere Engelse politici – veral haar hoofminister, Robert Cecil – geheime korrespondensie met Jakobus gehandhaaf om vooraf voor te berei vir ’n gladde troonopvolging.[34] Met die koningin duidelik sterwend, het Cecil in Maart 1603 vir Jakobus ’n konsepverklaring van sy bestyging van die Engelse troon gestuur. Elizabeth is in die vroeë oggendure van 24 Maart oorlede, en Jakobus is later dieselfde dag in Londen as koning geproklameer.[35][36]

Op 5 April het Jakobus Edinburg verlaat op pad na Londen en belowe om elke drie jaar terug te keer (’n belofte wat hy nie nagekom het nie). Plaaslike here het hom langs die pad na die Engelse hoofstad met oorvloedige gasvryheid ontvang, en Jakobus was verstom oor die rykdom van sy nuwe land en onderdane. Hy het beweer dat hy ’n "klipbed verruil vir ’n diep verebed". Jakobus het op 7 Mei in Londen aangekom, nege dae ná Elizabeth se begrafnis.[35][37] Sy nuwe onderdane het in menigtes gekom om hom te sien, verlig dat die troonopvolging nie onrus of ’n inval veroorsaak het nie.[38]

Jakobus se Engelse kroning het op 25 Julie in Westminster-abdy plaasgevind. ’n Uitbreking van pes het die feesvieringe beperk, maar skares het nogtans langs die paaie gewag om hom te sien. Die koninkryk wat Jakobus geërf het, het egter sy probleme gehad. Monopolieë en belasting het ’n wydverspreide gevoel van ontevredenheid veroorsaak, en die koste van die oorlog in Ierland het ’n swaar las geplaas op die regering,[39] wat skuld van £400 000 gehad het.

Vroeë bewind in Engeland

[wysig | wysig bron]
'n Portret van Jakobus, omstreeks 1605.

Jakobus het twee sameswerings oorleef in die eerste jaar van sy bewind in Engeland, ten spyte van die gladde opvolging en die hartlike verwelkoming wat hy ontvang het.[40] Diegene wat gehoop het op ’n verandering in die regering onder Jakobus, was aanvanklik teleurgesteld toe hy Elizabeth se Geheime Raad behou, soos in die geheim saam met Cecil beplan is,[40] maar Jakobus het gou sy lojale ondersteuner Henry Howard en sy nefie Thomas Howard tot die Geheime Raad bygevoeg, sowel as vyf Skotse adellikes.[40]

In die vroeë jare van Jakobus se bewind is die daaglikse bestuur van die regering in Engeland streng beheer deur die slinkse Cecil, later Graaf van Salisbury, bygestaan deur die ervare Thomas Egerton, vir wie Jakobus baron Ellesmere en minister van justisie gemaak het, en deur Thomas Sackville, wat kort daarna Graaf van Dorset sou word.[40] As gevolg hiervan kon Jakobus hom toespits op groter kwessies, soos ’n plan vir ’n nouer unie tussen Engeland en Skotland en die buitelandse beleid, asook om sy stokperdjies te geniet, veral jag.[40]

Jakobus wou op die persoonlike unie van Skotland en Engeland voortbou en ’n enkele land onder een monarg, een parlement en een regstelsel vestig, ’n plan wat weerstand ondervind het van albei lande se parlemente.[41] In April 1604 het die Laerhuis sy versoek om die titel “koning van Groot-Brittanje” te gebruik, op regsgronde van die hand gewys. In Oktober 1604 het hy egter die titel aangeneem. Jakobus het die Skotse parlement gedwing om dit te gebruik en dit is in albei lande op afkondigings, munte, briewe en verdrae gebruik.[42]

Jakobus het groter sukses in buitelandse beleid behaal. Aangesien hy nooit in 'n oorlog met Spanje betrokke was nie, het hy probeer om die langdurige Anglo–Spaanse Oorlog te beëindig. 'n Vredesverdrag is in Augustus 1604 tussen die twee lande onderteken. Jakobus het die verdrag gevier deur ’n groot banket aan te bied.[43] Godsdiensvryheid vir Katolieke in Engeland het egter steeds ’n belangrike doelwit van Spaanse beleid gebly, wat voortdurend dilemmas vir Jakobus geskep het – hy is in die buiteland wantrou weens onderdrukking van Katolieke, terwyl hy tuis deur die Geheime Raad aangemoedig is om selfs minder verdraagsaam teenoor hulle op te tree.[44]

Guy Fawkes

[wysig | wysig bron]

Op die vooraand van die opening van die tweede sessie van Jakobus se eerste parlement op 5 November 1605 is ’n soldaat met die naam Guy Fawkes in die kelder van die parlementsgebou ontdek – naby ’n hoop hout en nie ver van 36 vate buskruit nie waarmee hy beplan het om die gebou die volgende dag op te blaas.[45] Die samesweerders en hulle leier is op 27 Januarie 1606 gevonnis en vier dae later gehang. Die opspraakwekkende verydeling van die Katolieke Buskruitverraad, soos dit gou bekend geraak het, word nog op 5 November in Engeland gevier.

Ná die Buskruitverraad het Jakobus sy onderdrukking van Katolieke verskerp en streng maatreëls ingestel om hulle te beheer. In Mei 1606 het die parlement ’n wet goedgekeur wat van elke burger verwag het om ’n eed van trou af te lê waarin die Pous se mag bo dié van die koning onder meer ontken is.[46] Jakabus was verdraagsaam teenoor Katolieke wat die eed afgelê het,[47] en selfs teenoor kripto-Katolieke (Katolieke wat hulle in die openbaar met protestantisme vereenselwig het, maar innerlik Katolieke gebly het).

Jakobus, deur Paul van Somer, omstreeks 1620.

Die koning en die parlement

[wysig | wysig bron]

Die samewerking tussen die mornarg en die parlement was ná die Buskrytverraad ongewoon. Dit was die vorige sitting van 1604 wat die houdings van albei kante vir die res van die bewind gevorm het.[48] Namate Jakobus se bewind voortgegaan het, het sy parlement al hoe meer finansiële druk ervaar, deels vanweë die toenemende inflasie, maar ook weens die losbandigheid en finansiële onbevoegdheid van Jakobus se hof. In Februarie 1610 het Salisbury 'n skema voorgestel bekend as die Groot Kontrak waarvolgens die parlement, in ruil vir 10 koninklike toegewings, 'n enkelbedrag van £600 000 sou gee om die koning se skuld af te betaal plus 'n jaarlike toelae van £200 000.[49] Die daaropvolgende moeilike onderhandelings het so uitgerek geraak dat Jakobus eindelik sy humeur verloor en die parlement op 31 Desember 1610 ontbind het.[50]

Dieselfde patroon het gevolg met die mislukte parlement van 1614, wat Jakobus ná net nege weke ontbind het toe die Larhuis weifel om vir hom die geld te gee wat hy gevra het.[51] Jakobus het daarna sonder 'n parlement regeer tot 1621.[52]

Persoonlike verhoudings

[wysig | wysig bron]

Deur sy hele lewe het Jakobus noue verhoudings met manlike hofdienaars gehad, wat 'n debat onder historici ontketen het oor die presiese aard daarvan.[53] In Skotland was Anne Murray bekend as die koning se minnares.[54] Ná sy troonbestyging in Engeland het sy vreedsame en geleerdheidsgesinde houding skerp gekontrasteer met die veglustige en flirtende gedrag van Elizabeth,[53] soos aangedui deur die epigram Rex fuit Elizabeth, nunc est regina Iacobus ("Elizabeth was koning, en nou is Jakobus koningin").[55]

Robert Carr (links) en George Villiers was albei na bewering Jakobus se minnaars.

Sommige van Jakobus se biograwe meen Esmé Stewart, 1ste Hertog van Lennox; Robert Carr, 1ste Graaf van Somerset; en George Villiers, 1ste Hertog van Buckingham, was sy minnaars.[56] John Oglander het opgemerk hy "het nog nooit enige verliefde man gesien wat soveel vertroeteling teenoor sy pragtige vrou toon as wat ek koning Jakobus teenoor sy gunstelinge sien doen het nie, veral die Hertog van Buckingham"[57] wat, volgens sir Edward Peyton, deur die koning “rondgegooi en gesoen is soos 'n minnares”.[58] Die restourasie van die Apethorpe-paleis in Northamptonshire tussen 2004 en 2008 het 'n voorheen onbekende gang tussen die slaapkamers van Jakobus en Villiers onthul.[59]

Sommige van Jakobus se biograwe redeneer egter die verhoudings was nie seksueel nie.[60] Jakobus se Basilikon Doron noem sodomie onder misdade "wat julle gewetenshalwe nooit mag vergewe nie", en sy vrou Anne het sewe kinders gebaar wat oorleef het, asook twee stilgeboortes en minstens drie ander miskrame gehad.[61]

Die destydse digter Théophile de Viau het opgemerk dit is algemeen bekend dat die koning van Engeland en die Hertog van Buckingham seks het.[62] Buckingham self het bewys gelewer dat hy in dieselfde bed as die koning geslaap het, en skryf jare later aan Jakobus dat hy gewonder het "of jy my nou liewer het ... as daardie tyd wat ek nooit sal vergeet nie by Farnham, waar die bed se kop nie gevind kon word tussen die meester en sy hond nie".[63] Hierdie woorde kan as nieseksueel vertolk word, in die verband van die 17de-eeuse hoflewe,[64] en bly dubbelsinnig ondanks hul teerheid.[65] Dit is ook moontlik dat Jakobus biseksueel was.[66]

Toe die Graaf van Salisbury in 1612 sterf, is daar min gerou deur dié wat gewedywer het om die magsvakuum te vul. Tot met Salisbury se dood het die Elisabethaanse administratiewe stelsel waaroor hy toesig gehou het relatief doeltreffend bly funksioneer. Van daardie tyd af het Jakobus se regering egter 'n tydperk van agteruitgang en diskrediet betree.[67] Salisbury se dood het Jakobus die idee gegee om self as sy eie eerste minister te regeer, met sy jong Skotse gunsteling Robert Carr wat baie van Salisbury se vorige pligte oorgeneem het, maar Jakobus se onvermoë om noukeurig aandag aan amptelike sake te gee, het die regering blootgestel aan faksiegevegte.[68]

Die Howard-groep (bestaande uit Henry Howard, Graaf van Northampton; Thomas Howard, Graaf van Suffolk; Suffolk se skoonseun William Knollys, lord Knollys; Charles Howard, 1ste Graaf van Nottingham; en Thomas Lake) het gou beheer geneem van ’n groot deel van die regering en sy beskermingsnetwerk. Selfs die magtige Carr het hom by die Howards geskaar, hoewel hy byna geen ervaring gehad het van die verantwoordelikhede wat aan hom opgedra is nie, en dikwels staatgemaak het op sy intieme vriend Thomas Overbury vir hulp met regeringsdokumente.[69] Carr het ’n buite-egtelike verhouding gehad met Frances Howard, die Gravin van Essex, dogter van die Graaf van Suffolk. Jakobus het Frances gehelp deur ’n nietigverklaring van haar huwelik te verkry om haar in staat te stel om met Carr, nou Graaf van Somerset, te trou.[70]

In die somer van 1615 het dit egter geblyk dat Overbury vergiftig is. Hy het op 15 September 1613 in die Londense Tower gesterf, waar hy op versoek van die koning geplaas is.[71] Onder dié wat skuldig bevind is aan die moord was die Graaf en Gravin van Somerset; die graaf is intussen as die koning se gunsteling vervang deur Villiers. Jakobus het die gravin vergewe en die graaf se doodsvonnis versag, en hom eindelik in 1624 ook vergewe.[72] Die betrokkenheid van die koning by so ’n skandaal het baie openbare spekulasie ontlok en Jakobus se hof onherstelbaar besoedel met ’n beeld van korrupsie en verdorwenheid.[73] Die daaropvolgende val van die Howards het Villiers teen 1619 onbetwis gelaat as die vernaamste figuur in die regering.[74]

Tydens die laaste jaar van sy lewe was die koning dikwels ernstig siek en hy het Londen al hoe minder besoek. In Maart 1625 het hy ’n beroerte gehad en hy is op 27 Maart in Theobalds House in Hertfordshire oorlede. Daar is diep gerou oor sy dood. Hy was tot aan die einde baie gewild, veral danksy ononderbroke vrede en lae belasting tydens die Jakobeaanse Tydperk.

Die "King James Version" van die Engelse Bybel is aan hom opgedra. Dit is in 1611 gepubliseer danksy die Hampton Court-konferensie, wat hy byeengeroep het om probleme op te los met die vertalings wat destyds gebruik is. Dié vertaling van die Bybel word vandag nog wyd gebruik.

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]
Rubens het Jakobus uitgebeeld waar hy deur engele na die hemel gedra word.

Daar is wyd oor Jakobus gerou. Ondanks al sy tekortkominge het hy grootliks die liefde behou van sy volk, wat gedurende die Jakobeaanse era ononderbroke vrede en relatief lae belasting geniet het. "Nes hy in vrede geleef het," het die Graaf van Kellie opgemerk, "het hy in vrede gesterf, en ek bid tot God dat ons koning [Karel I] dieselfde sal doen."[75] Die graaf het egter vergeefs gebid: Die oomblik toe hy aan die bewind kom, het koning Karel I en die Hertog van Buckingham 'n reeks roekelose militêre ekspedisies goedgekeur wat in vernederende mislukkings geëindig het.[76] Jakobus het dikwels die sake van regering verwaarloos ten gunste van sy stokperdjies soos jag; sy latere afhanklikheid van gunstelinge in ’n hof vol skandale het die gerespekteerde beeld van monargie ondermyn wat Elizabeth I so noukeurig opgebou het.[77]

Onder Jakobus het die kolonisasie van Ulster deur Engelse en Skotse Protestante begin, en die Engelse kolonisasie van Noord-Amerika het 'n aanvang geneem met die stigting van Jamestown, Virginië, in 1607[78] en Cuper's Cove, Newfoundland, in 1610. Gedurende die volgende 150 jaar sou Engeland teen Spanje, Nederland en Frankryk baklei om beheer oor die vasteland, terwyl godsdiensverdeeldheid in Ierland tussen Protestante en Katolieke reeds 400 jaar voortduur. Deur aktief meer as net ’n persoonlike unie van sy ryke na te streef, het Jakobus gehelp om die grondslag te lê vir een Britse staat.[79]

Volgens ’n tradisie afkomstig van historici van die middel 17de eeu wat teen die Huis van Stuart gekant was, het Jakobus se voorliefde vir politieke absolutisme, sy finansiële onverantwoordelikheid en sy bevordering van ongewilde gunstelinge die grondslag gelê vir die Engelse Burgeroorlog. Jakobus het aan sy seun Karel ’n noodlottige geloof in die goddelike reg van konings nagelaat, gekombineer met ’n minagting van die parlement, wat uitgeloop het op die teregstelling van Karel I en die afskaffing van die monargie.

Oor die afgelope 300 jaar het die koning se reputasie gely onder die bytende beskrywings van Anthony Weldon, wat deur Jakobus afgedank is en wat verhandelinge oor hom in die 1650’s geskryf het,[80] en ander teenstanders.[81][82] Sedertdien het die stabiliteit van Jakobus se regering in Skotland en gedurende die vroeë deel van sy Engelse bewind, asook sy relatief verligte sienings oor godsdiens en oorlog, hom ’n herwaardering besorg onder baie historici wat sy reputasie van hierdie tradisie van kritiek gered het.[83]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Milling 2004, p. 155.
  2. Fischlin & Fortier 2002, p. 39
  3. Rhodes, Richards & Marshall 2003, p. 1
  4. Lockyer 1998, pp. 4–6; Smith 2003, p. 238
  5. Guy, pp 364–5.
  6. Stewart, p 47; Croft, p 16; Willson, pp 29–31.
  7. Stewart, p 66.
  8. Croft, pp 23–24.
  9. Willson, pp 85–95.
  10. Croft 2003, p. 101.
  11. Croft 2003, p. 26.
  12. Willson 1963, p. 103.
  13. Willumsen, Liv Helene (1 Desember 2020). "Witchcraft against Royal Danish Ships in 1589 and the Transnational Transfer of Ideas". International Review of Scottish Studies. 45: 54–99. doi:10.21083/irss.v45i0.5801. hdl:10037/20205. ISSN 1923-5755. S2CID 229451135 – via www.irss.uoguelph.ca.
  14. 14,0 14,1 Keay & Keay 1994, p. 556.
  15. Willson 1963, pp. 103–105.
  16. Croft 2003, p. 27; Lockyer 1998, p. 21; Willson 1963, pp. 105, 308–309.
  17. Hunter 2000, pp. 143, 166.
  18. Hunter 2000, p. 174.
  19. Thompson 1968, pp. 40–41.
  20. Hunter 2000, p. 175.
  21. Thompson 1968, pp. 40–41; Hunter 2000, p. 175
  22. Hunter 2000, p. 175; Rotary Club of Stornoway 1995, pp. 12–13
  23. Hunter 2000, p. 176.
  24. MacKinnon 1991, p. 46.
  25. Croft 2003, p. 139; Lockyer 1998, p. 179
  26. 26,0 26,1 Willson 1963, p. 321.
  27. Jack 1988, pp. 126–127.
  28. Sien: Jack, R.D.S. (2000), "Scottish Literature: 1603 and all that Geargiveer 11 Februarie 2012 op Wayback Machine", Association for Scottish Literary Studies, besoek op 18 Oktober 2011.
  29. Jack, R.D.S. (1985), Alexander Montgomerie, Edinburg: Scottish Academic Press, pp. 1–2.
  30. Jack 1988, p. 125.
  31. Jack 1988, p. 137.
  32. Spiller, Michael (1988), "Poetry after the Union 1603–1660", in Craig, Cairns (general editor), The History of Scottish Literature, Aberdeen University Press, vol. 1, pp. 141–152.
  33. Jack 1988, pp. 137–138.
  34. Lockyer 1998, pp. 161–162; Willson 1963, pp. 154–155.
  35. 35,0 35,1 Croft 2003, p. 49.
  36. Willson 1963, p. 158.
  37. Martin 2016, p. 315; Willson 1963, pp. 160–164.
  38. Croft 2003, p. 50.
  39. Croft 2003, pp. 50–51.
  40. 40,0 40,1 40,2 40,3 40,4 Croft 2003, p. 51.
  41. Croft 2003, pp. 52–54.
  42. Croft 2003, p. 67; Willson 1963, pp. 249–253.
  43. Croft 2003, pp. 52–53.
  44. Croft 2003, p. 118.
  45. Stewart, p 219.
  46. Stewart, p 225.
  47. Willson, p 228.
  48. Croft 2003, p. 63.
  49. Croft 2003, pp. 75–81.
  50. Croft 2003, p. 80; Lockyer 1998, p. 167; Willson 1963, p. 267.
  51. Croft 2003, p. 93; Willson 1963, p. 348.
  52. Willson 1963, p. 409.
  53. 53,0 53,1 Bucholz & Key 2004, p. 208
  54. Bain, Joseph (1894), Calendar of letters and papers relating to the affairs of the borders of England and Scotland, 2, Edinburgh: Creative Media Partners, pp. 30–31, 44, ISBN 978-1-0157-9859-5 
  55. Hyde, H. Montgomery (1970). The Love That Dared Not Speak its Name. London: Heinemann. pp. 43–44.
  56. Byvoorbeeld: Young, Michael B. (2000), King James and the History of Homosexuality, New York University Press, ISBN 978-0-8147-9693-1 ; Bergeron, David M. (1991), Royal Family, Royal Lovers: King James of England and Scotland, University of Missouri Press, ISBN 0826207839 ; Murphy, Timothy (2011), Reader's Guide To Gay & Lesbian Studies, Routledge Dearborn Publishers, p. 314, ISBN 9781579581428. 
  57. Bergeron, David M. (1999). King James and Letters of Homoerotic Desire. Iowa City: University of Iowa Press. p. 348.
  58. Ruigh, Robert E. (1971). The Parliament of 1624: Politics and Foreign Policy. Harvard University Press. p. 77.
  59. Graham, Fiona (5 Junie 2008). "To the manor bought". BBC News. Besoek op 18 Oktober 2008.
  60. bv. Lee, Maurice (1990), Great Britain's Solomon: James VI and I in his Three Kingdoms, Urbana: University of Illinois Press, ISBN 978-0-2520-1686-8. 
  61. Lockyer 1981, pp. 19, 21; Weir, Alison (1996). Britain's Royal Families: The Complete Genealogy. Random House. pp. 249–251. ISBN 0-7126-7448-9.
  62. Norton, Rictor (8 January 2000), "Queen James and His Courtiers", Gay History and Literature, http://rictornorton.co.uk/jamesi.htm, besoek op 9 December 2015. 
  63. Lockyer 1981, p. 22.
  64. Bray, Alan (2003). The Friend. University of Chicago Press. pp. 167–170. ISBN 0-2260-7180-4.; Bray, Alan (1994). "Homosexuality and the Signs of Male Friendship in Elizabethan England". In Goldberg, Jonathan (red.). Queering the Renaissance. Duke University Press. pp. 42–44. ISBN 0-8223-1385-5.
  65. Ackroyd, Peter (2014). The History of England. Vol. III: Civil War. Macmillan. p. 45. ISBN 978-0-2307-0641-5.; Miller, John (2004). The Stuarts. Hambledon. p. 38. ISBN 1-8528-5432-4.
  66. Dabiri, Emma. "Filled with 'a number of male lovelies': the surprising court of King James VI and I". BBC Scotland. BBC. Besoek op 28 Augustus 2020.
  67. Willson 1963, p. 333
  68. Willson 1963, pp. 334–335.
  69. Willson 1963, p. 349
  70. Lindley 1993, p. 120.
  71. Barroll 2001, p. 136
  72. Croft 2003, p. 91.
  73. Davies 1959, p. 20
  74. Croft 2003, pp. 98–99; Willson 1963, p. 397.
  75. Croft 2003, p. 130.
  76. Stewart 2003, p. 348
  77. Croft 2003, p. 129.
  78. Croft 2003, p. 146.
  79. Croft 2003, p. 67.
  80. Croft 2003, pp. 3–4
  81. Croft 2003, p. 6.
  82. Lockyer 1998, p. 4.
  83. Croft 2003, pp. 1–9, 46.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Akrigg, G. P. V (1978). Jacobean Pageant: The Court of King James I. New York: Atheneum. ISBN 0-689-70003-2.
  • Chambers, Robert (1856). "James VI". Biographical Dictionary of Eminent Scotsmen. Londen: Blackie and Son. {{cite book}}: Onbekende parameter |chapterurl= geïgnoreer (hulp)
  • Fraser, Antonia (1974). King James VI of Scotland, I of England. Londen: Weidenfeld and Nicolson. ISBN 0-297-76775-5.
  • Houston, S J. James I. Longman Publishing Group (June 1974), Seminar Studies ISBN 0-582-35208-8.
  • Lee, Maurice (1990). Great Britain's Solomon: James VI and I in his Three Kingdoms. Urbana: University of Illinois Press. ISBN 0-252-01686-6.
  • Lockyer, Roger (1998). James VI and I. Longman. 2de uitg.
  • Lockyer, Roger (1999). The Early Stuarts: The Political History of England 1603–1642. Longman.
  • Lynch, Michael (1991). Scotland: A New History. Ebury Press. ISBN 0-7126-3413-4.
  • "Preaching to the Converted? Perspectives on the Scottish Reformation," in The Renaissance in Scotland: Studies in Literature, Religion, History and Culture. - AA MacDonald, M. Lynch and IB Cowan (Leiden, 1994)
  • Peck, Linda Levy (1982). Northampton: Patronage and Policy at the Court of James I. Harper Collins. ISBN 0-04-942177-8.
  • Williamson, David (1998). The National Portrait Gallery History of the Kings and Queens of England. Londen: National Portrait Gallery. ISBN 1-85514-228-7.

Boeke oor Jakobus I aanlyn beskikbaar

[wysig | wysig bron]

Skakels

[wysig | wysig bron]