Bergwind



Bergwind is die Suid-Afrikaanse naam vir 'n katabatiese wind, 'n warm, droë wind wat met die Platorand vanaf die hoë sentrale plato na die kus afwaai.[1][2][3]
Ontstaan
[wysig | wysig bron]In Suid Afrika ontstaan bergwinde veral in die herfs en lente, wanneer 'n hoogdrukstelsel op die hoë, droë en dorre binnelandse plato ontstaan en die wind oor die platorand na streke met 'n lae lugdruk langs die kus daal. Dit is dus 'n aflandige wind. Terwyl die lug van die platorand na die see afsak, styg die temperatuur daarvan (soms selfs met 20°C). Dus kan die temperatuur in Upington 'n 20°C wees en in Alexanderbaai oor die 30°C. Bergwind kom voor langs die hele kus van Suid-Afrika. Gewoonlik waai dit oordag en dan duur dit net 'n paar uur lank. Dit kan egter ook 'n dag of drie aanmekaar waai. Gewoonlik is die windspoed 'n 10 km/u, maar rukwinde van tot 100 km/u kan voorkom, wat skade aan geboue aanrig en bome ontwortel. Hierdie uitdorrende bergwinde word as onaangenaam ervaar. Die warmte werk lusteloosheid en irritasie aan die hand. Gewoonlik word 'n bergwind gevolg deur 'n koue front wat lae wolke, mis of motreën bring. Indien 'n bergwind met 'n naderende kouefront saamval, kan beduidende reën uitsak. Veral in Kaapstad is 'n bergwind die voorbode van koue en nat weer.
Temperature
[wysig | wysig bron]- Die hoogste amptelike temperatuur wat ooit in Suid-Afrika aangeteken is, is 51.5 C. Dit was in 'n somer tydens bergwindtoestande aan die kus van die Oos-Kaap.
- In April 1908 is 'n temperatuur van 46°C in Port Nolloth aangeteken. In Februarie 1916 het die kwik in Heidelberg, Wes-Kaap geklim tot 45.5°C.
- Tydens bergwindtoestande kan die temperatuur soms vinnig styg. In die winter van 1985 is in Kaapstad om 7vm. 'n temperatuur gemeet van slegs 3°C. Binne 'n half uur het die termometer op 27°C gestaan. Dit is 'n uitsonderlike geval.
- In die weer kom vreemde afwykings voor. Enkele plekke aan die kus het hul hoogste temperature ooit in die winter bereik. In Durban het in 'n sekere winter die temperatuur tot 42°C gestyg en om middernag het dit gedaal tot 36°C.
Naam
[wysig | wysig bron]'n Bergwind is so tipies van die Suid-Afrikaanse weer dat meteoroloë die Afrikaanse naam gebruik vir soortgelyke weerverskynsels elders in die wêreld. Alhoewel die chinook van Noord-Amerika en die Föhn van die sentrale dele van Europa sterk ooreenkomste met 'n bergwind toon, is die verskille te groot om hulle ook as bergwinde te beskryf.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Danielson, Eric William; Levin, James; Abrams, Elliot (2003). Meteorology. McGraw-Hill. ISBN 978-0-07-365963-3.
- ↑ Barry, R.G.; Chorley, R.J. (1971). "Atmospheric motion". Atmosphere, Weather and Climate. London: Methuen & Co Ltd. pp. 117–127. ISBN 9780416079401.
- ↑ Tyson, P.D.; Preston-Whyte, R.A. (2000). "Coastal lows and Berg winds". The Weather and Climate of Southern Africa (Second uitg.). Cape Town: Oxford University Press. pp. 77, 127, 144–145, 187–188, 190–194, 203–204, 272. ISBN 9780195718065.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- www.reenvalsa.com
- www.thetablemountainfund.org.za