Doldrums
Die doldrums is ‘n gordel om die aarde bekend om sy windstiltes wat vir seilskepe ‘n groot probleem geskep het.
Gordel
[wysig | wysig bron]Hierdie gebied van lae lugdruk in die Atlantiese Oseaan en die Stille Oseaan lê tussen 5° noorderbreedte en 5° suiderbreedte, maar die breedte van die strook kan wissel tussen 20° noord en 20° suid. Die presiese ligging van die band van lae druk wissel met die seisoene: in Januarie is die meer suid, in Julie meer noord. Dit beweeg dus nader aan die halfrond met die somerseisoen. Die doldrums staan wetenskaplik bekend as die ekwatoriale of intertropiese konvergensiesone, want die noordoospassaatwind uit die noordelike halfrond waai suidwes en die suidoospassaatwind uit die suidelike halfrond waai noordwes en kom hier saam. Deur die sterk verwarming van die seewater deur die son by die ewenaar word vogtige lug in die atmosfeer opwaarts geforseer. Soos die lug opstyg koel dit af en val kwaai reënbuie en is daar min of geen oppervlaktewind. Die gevolg is onstabiele weer met wolke en donderstorms veral aan die weskuste van Afrika en sentraal Amerika.
Gevaar
[wysig | wysig bron]In die era van seilskepe was skepe soms vir dae en soms selfs weke in die windstiltes vasgekeer en het voedsel en drinkwater opgeraak en verveling onder die matrose begin intree. Vir moderne skepe is dit nie meer ‘n probleem nie, omdat hulle deur motore aangedryf word en radar gebruik. Seiljagvaarders probeer so vinnig as moontlik deur die gebied seil om te verhoed dat hulle ‘n vertraging oploop weens die onvoorspelbare weerpatrone. Teenswoordig hou die doldrums meer gevaar in vir die lugvaart as die skeepvaart. Weens die baie donderstorms vermy vliegtuie dikwels daardie deel van die lugruim. Op 1 Junie 2009 het Air France-vlug 447 op sy reis van Rio de Janeiro na Parys in die Atlantiese Oseaan neergestort waarskynlik omdat dit deur donderstorms en onweersbuie gevlieg het met die gevolg van ysvorming aan die navigasieapparatuur.
Letterkunde
[wysig | wysig bron]In die gedig ‘’The Rime of the Ancient Mariner’’ verwys Samuel Taylor Coleridge na die doldrums.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- oceanservice.noaa.gov
- study.com/academy/lesson/doldrums-definition-location.html
- www.topper.com