Ebrahim Rasool
Ebrahim Rasool | |
![]() Ebrahim Rasool by die Pentagon, 25 Julie 2012. | |
Suid-Afrikaanse Ambassadeur in die Verenigde State
| |
Ampstermyn 13 Januarie 2025 – 14 Maart 2025 | |
President | Cyril Ramaphosa |
---|---|
Voorafgegaan deur | Ndumiso Ntshinga |
Ampstermyn 4 Augustus 2010 – 23 Februarie 2015 | |
President | Jacob Zuma |
Voorafgegaan deur | Welile Nhlapo |
Opgevolg deur | M. J. Mahlangu |
Ampstermyn 30 April 2004 – 25 Julie 2008 | |
Voorafgegaan deur | Marthinus van Schalkwyk |
Opgevolg deur | Lynne Brown |
Ampstermyn 2001 – 30 April 2004 | |
Ampstermyn 1994 – 1998 | |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 15 Julie 1962 Distrik Ses, Kaapstad |
Nasionaliteit | ![]() |
Politieke party | African National Congress |
Eggenoot/-note | Rosieda Shabodien |
Kind(ers) | 2 |
Alma mater | Universiteit van Kaapstad |
Ebrahim Rasool (gebore 15 Julie 1962)[1] is 'n Suid-Afrikaanse politikus en diplomaat wat as die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in die Verenigde State gedien het van 2010 tot 2015 en weer kortstondig in 2025. Hy was voorheen 'n lid van die Nasionale Vergadering van 2009 tot 2010, en die 5de Premier van die Wes-Kaap van 2004 to 2008. Hy is 'n lid van die African National Congress en het reeds verskeie leiersposisies in die party beklee.
Op 14 Maart 2025, terwyl hy die ambassadeur in die VSA was, is Rasool deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, tot persona non grata verklaar, wat hom toegang tot die Verenigde State verbied het.[2]
Vroeë lewe en opvoeding
[wysig | wysig bron]Ebrahim Rasool is op 15 Julie 1962 in Distrik Ses, Kaapstad gebore, in 'n Moslem-familie van gemengde Engels-Javanees-Nederlands-Indiese afkoms.[3] Aangesien hy deur die apartheidstelsel as 'n “kleurling” geklassifiseer is toe hy nege jaar oud was,[3] is hy en sy gesin met ‘n gedwonge verskuiwing uit die gebied gesit weens die regering wat die gebied as 'n "slegs-blanke" woonbuurt verklaar het. Sy gesin het na Primrose Park naby Manenberg op die Kaapse Vlakte verhuis.[4]
Rasool het in 1980 aan die Hoërskool Livingstone in Claremont gematrikuleer. Hy het voortgegaan om aan die Universiteit van Kaapstad te studeer en het 'n Baccalaureus Artium-graad in 1983 en 'n Hoër Onderwysdiploma in 1984 van die universiteit ontvang. Gedurende hierdie tyd het hy by studentepolitiek betrokke geraak. Hy is in 1985 as 'n onderwyser by Hoërskool Spine Road aangestel.[4][5]
Politieke loopbaan
[wysig | wysig bron]Hy het spoedig by die anti-apartheidsbeweging betrokke geraak. Hy het senior poste in die United Democratic Front en die African National Congress beklee. Hy het tronkstraf uitgedien en is ook gereeld onder huisarres geplaas. Tussen 1991 en 1994 was hy 'n assistent van die Rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en die Tesourier van die ANC se provinsiale struktuur.[6]
Rasool is in April 1994 tot die Wes-Kaapse Provinsiale Wetgewer verkies ná die land se eerste demokratiese verkiesing. Hy het gedien as die LUR vir Gesondheid en Maatskaplike Dienste van 1994 tot 1998. In 1998 is hy verkies tot Provinsiale voorsitter van die ANC. Hy is in 2001 as die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling aangestel en het hierdie pos beklee tot sy aanstelling as die 5de Premier van die Wes-Kaap in April 2004. Mcebisi Skwatsha het hom as Provinsiale voorsitter opgevolg.[7][8]
Ná die inhegtenisneming van die bendeleier Quinton Marinus, oftewel “Mr Big”, het Rasool en die destydse Wes-Kaapse provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, Leonard Ramatlakane, doodsdreigemente van die Chinese Triads begin ontvang. Dit het daartoe gelei dat Ramatlakane R347 716 se openbare geld op omstrede wyse bestee het aan sekuriteitsverbeterings aan sy huis.[9]
Op 14 Julie 2008 is Rasool deur die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC uit die posisie van premier herroep, aangesien die ANC-topleierskap dit afgekeur het dat hy voorkeur gee aan die groot Moslem- en Kaaps-bruin bevolking in die Wes-Kaap. Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme Lynne Brown is as sy opvolger aangewys.[10][11]
Rasool het toe kortliks gewerk as 'n spesiale adviseur van die President van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, voordat hy in April 2009 tot 'n lid van die Nasionale Vergadering verkies is. President Jacob Zuma het hom in Julie 2010 as Suid-Afrika se Ambassadeur in die Verenigde State aangestel. Hy het in Februarie 2015 na Suid-Afrika teruggekeer.[12]
In April 2018 het die ANC Nasionale verkiesingshoof, Fikile Mbalula, Rasool as die party se Provinsiale verkiesingshoof vir die 2019 algemene verkiesings aangekondig. Hierdie stap is gesien as deel van 'n veldtog om hom as Provinsiale voorsitter van die ANC te laat terugkeer. Ná die verkiesing het die ANC se steun nog verder afgeneem in die provinsie. Rasool is verkies as 'n lid van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement, maar het sy bedanking by die inkomende Speaker ingedien.[13][14][15]
Rasool was 75ste op die ANC se nasionale partylys vir die algemene verkiesing in 2024, maar dit was nie hoog genoeg vir hom om na die Nasionale Vergadering terug te keer nie, gegewe die ANC se afname in steun tydens die verkiesing.[16]
Hy is in 2024 weer as Ambassadeur in die VSA aangestel. Op 14 Maart 2025 het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, Rasool tot persona non grata verklaar nadat Rasool president Donald Trump en bondgenote, insluitend die Suid-Afrikaansgebore miljardêr Elon Musk, daarvan beskuldig het dat hulle wit oppergesag bevorder, in kommentaar aan 'n Suid-Afrikaanse dinkskrum.[17] Die uitsetting het gekom in die breër konteks van Trump se kritiek op 'n wet op grondonteiening wat Afrikaners kwansuis onregverdig geteiken het.[18] In 'n verklaring het die kantoor van president Cyril Ramaphosa die besluit "betreurenswaardig" genoem en 'n beroep op "alle relevante en geraakte belanghebbendes gedoen om die gevestigde diplomatieke dekorum in hul betrokkenheid by die saak te handhaaf."[19]
Omstredenheid
[wysig | wysig bron]In 2010, voordat hy sy pos as ambassadeur in die Verenigde State aanvaar het, is 'n ondersoek van stapel gestuur na bewerings dat Rasool 'n politieke verslaggewer in 'n hoofstroomkoerant betaal het om artikels te skryf wat hom gunstig uitbeeld. Die ondersoek is tot stilstand gedwing nadat wesenlike getuies geweier het om met die ondersoek saam te werk.[20]
Persoonlike lewe
[wysig | wysig bron]Rasool is getroud met Rosieda Shabodien. Hulle het twee kinders.[21]
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Rasool, Ebrahim (Winter 2010). "South African Muslims Over Three Centuries: From the Jaws of Islamophobia to the Joys of Equality" (PDF). Arches Quarterly. 4 (7): 147–154. Geargiveer van die oorspronklike (PDF) op 11 November 2016. Besoek op 1 September 2011.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Ebrahim Rasool, leader of the ANC in the Western Cape and premier of that province, is born.. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Looker, Rachel (15 Maart 2025). "South African ambassador 'no longer welcome' in US, Rubio says". BBC News. Washington. Besoek op 15 Maart 2025.
- ↑ 3,0 3,1 https://publishing.cdlib.org/ucpressebooks/view?docId=ft4p3006kc&chunk.id=d0e5298&toc.depth=1&toc.id=d0e5298&brand=ucpress
- ↑ 4,0 4,1 Ebrahim Rasool, South African History Online. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Ebrahim Rasool, The Love and Forgiveness Project. Besoek op 4 Augustus 2019.
- ↑ Ebrahim Rasool Premier Western Cape Provincial Government Geargiveer 19 Februarie 2025 op Wayback Machine, Wharton Cape Town. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Jordaan, Willem. Mbeki deals his premier cards, News24, Cape Town, 22 April 2004. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Rasool ousted as ANC Western Cape chairperson, Mail & Guardian, 12 Junie 2005. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ "Cape gangs: Targeting the untouchables". Mail & Guardian. 28 Augustus 2007. Besoek op 4 Augustus 2019.
- ↑ Jika, Thanduxolo (17 Januarie 2011). "Ebrahim Rasool explains why he was fired". News24. Besoek op 4 Augustus 2019.
- ↑ "Lynne Brown sworn in as Western Cape premier". Mail & Guardian (in Engels). 25 Julie 2008. Besoek op 4 Augustus 2019.
- ↑ Ambassador from South Africa: Who is Ebrahim Rasool?, AllGov, 10 April 2011. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Davis, Rebecca.Ebrahim Rasool returns as ANC gets serious about reclaiming Western Cape, The Daily Maverick, 23 April 2018. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Whittles, Govan. Tainted, but Rasool’s back with a bang, Mail & Guardian, 26 April 2018. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Ebrahim Rasool declines Western Cape legislature seat, IOL, Cape Town, 22 Mei 2019. Besoek 4 Augustus 2019.
- ↑ Merten, Marianne (5 Junie 2024). "The ANC haemorrhaging continues — Cele, Modise, Zulu and Pandor won't return as MPs". Daily Maverick (in Engels). Besoek op 6 Junie 2024.
- ↑ Wong, Edward; Eligon, John (15 Maart 2025). "Trump Administration Expels South Africa's Ambassador to the U.S." The New York Times (in Engels (VSA)). ISSN 0362-4331. Besoek op 15 Maart 2025.
- ↑ Ewing, Giselle Ruhiyyih (14 Maart 2025). "Rubio says South Africa's ambassador no longer welcome in US after criticizing Trump". Politico (in Engels). Besoek op 15 Maart 2025.
- ↑ "South Africa committed to US ties after 'regrettable' expulsion of envoy". Al Jazeera (in Engels). Besoek op 15 Maart 2025.
- ↑ "'Brown envelope' probe dropped". SAPA. Besoek op 16 Mei 2013.
- ↑ Adams, Sheena. W Cape premier tells of racism towards wife, IOL, 26 Maart 2005. Besoek 4 Augustus 2019.