Niger
| |||||
Nasionale leuse: Fraternité, Travail, Progrès (Frans vir: "Broederskap, Arbeid, Vooruitgang") | |||||
Volkslied: L'Honneur de la Patrie (Frans vir: "Die eer van die vaderland") | |||||
![]() | |||||
Hoofstad | Niamey | ||||
Grootste stad | Niamey | ||||
Amptelike tale | Hausa[1] Nasionale tale: Arabies, Budurna, Fula, Gourmanché, Kanuri, Songhai-Zarma, Tamasjek en Tubu[2] | ||||
Regering | Eenheidsrepubliek onder 'n militêre junta Abdourahamane Tchiani Salifou Modi Ali Lamine Zeine | ||||
Onafhanklikheid • Republiek uitgeroep
• Verklaar • Staatsgreep • Oorgangshandves |
van Frankryk 18 Desember 1958 3 Augustus 1960 26 Julie 2023 26 Maart 2025 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 267 000[3] km2 (23ste) 489 191 myl2 0,02 | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2012-sensus - Digtheid |
26 342 784[3] (55ste) 17 138 707 20,1 / km2 53,8 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | ||||
MOI (2022) | ![]() | ||||
Gini (2021) | 32,9[6](70ste) – hoog | ||||
Geldeenheid | CFA-frank (XOF )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
WAT (UTC+1) nie toegepas nie (UTC+1) | ||||
Internet-TLD | .ne | ||||
Skakelkode | +227 |
Niger (Frans: [niʒɛʁ], ), amptelik die Republiek Niger (Hausa: Jamhuriyar Nijar), is 'n Wes-Afrikaanse landingeslote land suid van die Sahara. Niger se naam is ontleen aan die Nigerrivier wat deur die gebied vloei, en is ook geleë in die Sahel. Dit grens aan Nigerië en Benin in die suide, Burkina Faso en Mali in die weste, Algerië en Libië in die noorde en Tsjad in die ooste. Die hoofstad en grootste stad is Niamey.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die landnaam is afgelei van die Nigerrivier wat deur die weste van die land vloei; die oorsprong van die riviernaam is egter onbekend, maar volgens 'n gewilde teorie is dit afgelei van die Toearegwoord n'eghirren wat "vloeiende water" beteken.[7]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]

Redelike inligting dui aan dat menslike inwoners die gebied wat vandag die amper onbewoonbare Sahara van noordelike Niger geword het, ongeveer 600 000 jaar gelede bewoon het. Niger was 'n belangrike ekonomiese kruispad, en die ryke van Songhai, Mali, Gao, Kanem en Bornu, asook 'n aantal Hausa-state, het beheer oor gedeeltes van die gebied uitgeoefen.
Gedurende onlangse eeue het die nomadiese Toearegs groot konfederasies gevorm, suidwaarts gestoot en aan die kant van verskeie Hausa-state in konflik gekom met die Fulani-Ryk van Sokoto, wat beheer van groot dele van Hausa-gebied verkry het in die laat 18de eeu.
In die 19de eeu het kontak met die Weste begin met die verkenning van die gebied deur Europese verkenners – noemenswaardig is veral Mungo Park en Heinrich Barth – wat op soek was na die oorsprong van die Nigerrivier. Alhoewel Franse pogings tot bevreeding voor 1900 begin het, kon etniese splintergroepe, veral die Toearegs-woestynbewoners, nie onder beheer gebring word tot 1922 nie, toe Niger 'n Franse kolonie geword het.
Niger se koloniale geskiedenis en ontwikkeling parallel die van ander Frans-Wes-Afrikaanse gebiede. Frankryk het sy Wes-Afrikaanse kolonies bestuur deur 'n goewerneur-generaal in Dakar, Senegal, en goewerneurs in die individuele gebiede, insluitende Niger. Tussen 1902 en 1904 het die gebied aan Senegambië en Niger behoort. Saam met die Franse burgerskap wat aan die inwoners van die Franse gebiede gegee was, het die Franse grondwet ook in 1946 voorsiening gemaak vir die desentralisasie van mag en beperkte betrokkenheid in die politieke lewe van plaaslike raadgewende samekomste.
'n Verdere hersiening in die organisasie van oorsese gebiede het geskied met die deurvoering van die "Overseas Reform Act" (Loi Cadre) van 23 Julie 1956, gevolg deur herorganisatoriese stappe ingestel deur die Franse Parlement vroeg in 1957. Hierdie wette het ongelykhede in die stemproses verwyder en ook voorsiening gemaak vir die skepping van regeringsorgane, wat individuele gebiede 'n groter mate van selfregering verseker het. Na die totstandkoming van die Vyfde Franse Republiek op 4 Oktober 1958 het Niger 'n outonome staat binne die Franse Gemeenskap geword, gevolg deur volle onafhanklikheid op 3 Augustus 1960.
Politiek
[wysig | wysig bron]
Niger se nuwe grondwet is goedgekeur in Julie 1999. Dit het die semi-presidensiële sisteem van regering van die Desember 1992 grondwet (Derde Republiek) herstel, waarin die president van die republiek, verkies deur die burgers vir termyn van vyf jaar, en 'n eerste minister, wat aangewys word deur die president, oor die uitvoerende mag beskik. As 'n refleksie op Niger se toenemende bevolking is die een-kamer Nasionale Vergadering uitgebrei in 2004 tot 113 lede wat vir 'n vyfjaar termyn verkies word onder 'n meerderheidsisteem van verteenwoordiging. Politieke partye moet ten minste 5% van die stemme verwerf om 'n setel in die wetgewer te bekom.
Niger se onafhanklike regstelsel bestaan uit vier hoër howe—die Appelhof, die Hooggeregshof, die Hoë Hof vir Justisie en die Grondwetlike Hof.
Die grondwet maak voorsiening vir die gewilde verkiesing van munisipale en plaaslike beamptes en die eerste suksesvolle munisipale verkiesing het plaasgevind op 24 Julie 2004. Die Nasionale Vergadering het in Junie 2002 'n reeks desentralisasie wette deurgevoer. As 'n eerste stap sal administratiewe mag verdeel word in 265 kommunes (plaaslike rade) en in latere stadiums sal streke en departemente gestig word as desentraliseerde entiteite. 'n Nuwe verkiesingsbeleid is aangeneem om die desentralisasiekonteks te reflekteer. Die land is tans verdeel in agt streke, wat onderverdeel is in 36 distrikte (departemente). Die Hoofadministrateur (Goewerneur) in elke departement word aangewys deur die regering en funksioneer as die plaaslike agent van die sentrale owerheid.
Die regering wat verkies is in Desember 2004, het sewe politieke partye ingesluit. President Mamadou Tandja is herverkies in Desember 2004 en het Hama Amadou weer aangewys as Eerste Minister. Mahamane Ousmane, die hoof van die CDS, is herverkies as die President van die Nasionale Vergadering (Parlement) deur sy medeparlementslede. Die nuwe tweede termyn regering van die Vyfde Republiek het die amp betree op 30 Desember 2002. In Augustus 2002 het 'n reeks onluste binne die weermag plaasgevind in Niamey, Diffa, en Nguigmi, maar die regering kon orde herstel binne 'n paar dae.
Op 27 Desember 2020 het kiesers na die stembus gegaan nadat Mahamadou Issoufou aangekondig het hy gaan uittree, wat die weg gebaan het vir 'n vreedsame magsoorgang.[8] Geen kandidaat het 'n volstrekte meerderheid in die stemming gekry nie: Mohamed Bazoum het die naaste gekom met 39,33%. Volgens die grondwet is 'n herverkiesing op 20 Februarie 2021 gehou, met Bazoum wat 55,75% van die stemme gekry het en opposisiekandidaat (en voormalige president) Mahamane Ousmane 44,25%, volgens die verkiesingskommissie.[9]
Op 26 Julie 2023 het die land sy vyfde staatsgreep beleef, waarmee die Sewende Republiek omvergewerp is.[10] Die presidensiële wag se bevelvoerder-generaal Abdourahamane Tchiani het homself as die leier van 'n nuwe militêre junta van die Nasionale Raad vir die Beskerming van die Tuisland verklaar.[11][12][13]
Departemente
[wysig | wysig bron]

- Agadez
- Diffa
- Dosso
- Maradi
- Tahoua
- Tillabéri
- Zinder
Geografie
[wysig | wysig bron]Niger is 'n Wes-Afrikaanse landingeslote land wat geleë is langs die grens tussen die Sahara en Sub-Sahara-streke. Niger se geografiese koördinate is 16°N (Lengtegraad) en 8°O (Breedtegraad). Die oppervlakte is 1 267 miljoen km², waarvan 1 266 700 km² land is en 300 km² water. Dit maak Niger 'n bietjie kleiner as tweekeer die grootte van die Amerikaanse deelstaat Texas.[3]
Niger grens aan sewe lande aan alle kante en het 'n totaal van 5 697 km se grense. Die langste grens is Tsjad in die ooste, met 1 175 km. Dit word gevolg deur Nigerië in die suide (1 497 km), Algerië in die noord-noordweste (956 km) en Mali met 821 km. Niger het klein grense in die suidweste (Burkina Faso met 628 km en Benin met 266 km) en in die noord-noordooste (Libië met 354 km).
Niger se subtropiese klimaat is hoofsaaklik warm en droog met baie woestyngebied. In die verre suide is daar 'n tropiese klimaat aan die kante van die Nigerrivier. Die terrein is hoofsaaklik woestynvlaktes en sandduine, met plat vlaktes in die suide en heuwels in die noorde (waaronder Ahaggar en Aïr). In die suidooste is die Tsjadmeer geleë, maar dit word ernstig deur dehidrasie bedreig.
Die laagste punt is die Nigerrivier, met 'n hoogte van 200 m bo seevlak en die hoogste punt is Mont Greboun teen 1 944 m.
Demografie
[wysig | wysig bron]Frans, geërf uit die koloniale tydperk, was die amptelike taal tot 2025, toe dit deur Hausa vervang is.[1] Dit word op skool as 'n tweede taal onderrig en dien as die administratiewe taal.
Naas Frans word veral Berbertale, Fula, Hausa, Kanuri en Toearegtale in Niger gepraat. Van die belangrikste etniese groepe is Bambara, Berbers, Fula, Hausa, Kanuri en Toearegs.[3]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 (en) Chinedu Okafor (8 April 2025). "Niger downgrades French as it distances from its colonial past with a new official language". Business Insider Africa. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (fr) "Loi n° 2001-037 du 31 décembre 2001 fixant les modalités de promotion et de développement des langues nationales". Universiteit van Laval. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) "Niger". Central Intelligence Agency. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ 4,0 4,1 4,2 4,3 (en) "Niger". Internasionale Monetêre Fonds. April 2025. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) "Gini Index – Niger". Wêreldbank. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) Atlas A-Z. New York: Dorling Kindersley. 2004. p. 289.
- ↑ (en) "Nigerien President Mahamadou Issoufou set to exit power". Africa News. 7 Januarie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Februarie 2021. Besoek op 4 Februarie 2021.
- ↑ (en) "Niger election: Mohamed Bazoum wins landmark vote amid protests". BBC. 23 Februarie 2021. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) "Niger soldiers announce coup on national TV". BBC. 27 Julie 2023. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (fr) "Niger : ce que l'on sait de la tentative de coup d'Etat en cours contre le président Mohamed Bazoum". Franceinfo. 26 Julie 2023. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) "Niger soldiers declare coup on national TV". BBC. 26 Julie 2023. Besoek op 23 April 2025.
- ↑ (en) "Niger's president 'held by guards' in apparent coup attempt". Al Jazeera. Besoek op 23 April 2025.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Algemeen
- (en) "Niger". Encyclopædia Britannica. Besoek op 23 April 2025.
- (en) "Niger". Central Intelligence Agency. Besoek op 23 April 2025.
- (en) Samuel Decalo, Historical Dictionary of Niger, 3rd ed. (Scarecrow Press, 1997, ISBN 0-8108-3136-8) – a comprehensive collection of Niger topics
- (en) US State Department U.S. Relations With Niger
- (en) Unicef Niger statistics Geargiveer 30 November 2009 op Wayback Machine
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Niger. |
- Regering
- (fr) Niger Assemblee Nationale – amptelike webwerf
- (en) Mission of Niger to the United Nations – amptelike webwerf
- Nuus
- (en) allAfrica – Niger
- (fr) Nigerportal – Niger
- (en) BBC News Country Profile – Niger
- Ander
- (en) How to Give Direct to Address Hunger and Improve Social Conditions in Niger
- (en) Map of Niger with departements Geargiveer 4 April 2005 op Wayback Machine
- (en) Maps of Niger, pictures of Agadez, Tuaregs and handcraft from Niger
- (en) Anti-slavery.org page on slavery in Niger Geargiveer 31 Julie 2005 op Wayback Machine