Gaan na inhoud

Perdebreedtes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Diagram wat die relatiewe posisies van die perdebreedtes toon.

Die perdebreedtes is twee gordels om die aarde van subtropiese hoë lugdruk bekend om die afwesigheid van beduidende wind.

Ligging

[wysig | wysig bron]

In die Suidelike Halfrond lê die band rondom die 30° en 35° suid, dus suid van die Steenbokskeerkring, tussen die suidoospassaatwinde wat na die ewenaar waai en die westewinde wat na die Suidpool waai. In die noordelike halfrond is dit presies die teenoorgestelde: tussen die 30° en 35° noord, dus noord van die Kreefskeerkring, en tussen waar die suidoospassaat na die ewenaar waai en die westewinde na die Noordpool waai. Die gebiede brei in breedte uit tot tussen die ongeveer 25° tot selfs 35°, noord of suid, saam met die ontwikkeling van die intensiteit van die somerson in daardie halfrond (met ‘n vertraging van ‘n maand of twee).

Die weer in daardie streek rondom die aarde is warm, sonnig met helder lugte, weinig of geen neerslag en kalm tot geen wind nie. In die suidelike halfrond is die weer intenser weens die groter see-oppervlakte. Die faktore lei tot ‘n droë klimaat op land en gevolglik lê die groot woestyne van die wêreld onder die perdebreedtes. Hierdie woestyne is in die suide die Kalahari, Namibwoestyn, die groot Australiese woestyn en die Atacamawoestyn in Chili. In die noordelike halfrond is die bekendste die Arabiese woestyn, die Siriese woestyn, die Mojave- woestyn in die VSA en die Sonora-woestyn in Meksiko en die VSA.

Seilskepe

[wysig | wysig bron]

In tye van voor moderne meteorologiese apparate en satellietwaarneming moes matrose die weerpatrone bestudeer en berus op ervaring van winde en seestrome as hulle ‘n seilroete oor die oseane beplan het. Hulle het byvoorbeeld uit ervaring geweet waar dit deur die nabyheid aan landmassas windstil is. Die Sargasso-see in die noordweste van die Atlantiese Oseaan was daarvoor bekend dat om die swak seestrome daar dit moeilik is om na Amerika oor te steek.

Daar is verskeie interessante menings oor die herkoms van die naam perdebreedtes vir hierdie weergordels. Seilskepe het in die 1500’s dikwels perde as vrag van Spanje na Suid-Amerika vervoer. As so ‘n skip in ‘n windstilte beland het en moes wag, raak die kos en drinkwater vir die perde soms op. In sekere gevalle is die perde dan oorboord gegooi, ook om so die skip ligter te maak sodat ‘n ligte bries benut kon word om verder te seil. Ook kon die naam bloot ‘n vertaling wees van El Golfo de las Yeguas, “die golf van die perde”, wat die Spaanse naam was vir die seegebied tussen Spanje en die Kanariese Eilande omdat beide perde en die see wispelturig en onbestendig was. Dan spring die boot ook nog rond op die golwe soos ‘n ruiter op ‘n perd. Op so ‘n seilskip is op ‘n sekere plek, afstand en tyd aan die matrose ‘n deel van die soldy uitbetaal. Dan was daar gewoonlik ‘n jolige ritueel waarby die bemanningslede uit baldadigheid met ‘n perdekop gemaak uit strooi op die dek rondspring en waarna die verflenterde beeld oorboord gegooi word.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • link.springer.com/referenceworkentry/10.1007/0-387-30749-4_85
  • oceancolor.gsfc.nasa.gov/feature/horselatitudes/page2.html
  • oceanservice.noaa.gov/facts/horse-latitudes.html
  • sailingineurope.com/blog/horse-latitudes-what-do-horses-have-to-do-with-sailing
  • thoughtco.com/trade-winds-horse-latitudes-the-doldrums-1435362