Roy Eldridge
Roy Eldridge | |
---|---|
![]() Eldridge in 1946 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | David Roy Eldridge |
Gebore | Pittsburgh, Pennsilvanië, Verenigde State | 30 Januarie 1911
Sterf | 26 Februarie 1989 (op 78) Valley Stream, New York, Verenigde State |
Genres | Jazz, swing, big band |
Beroep(e) | Musikant |
Instrumente | Trompet |
David Roy Eldridge (30 Januarie 1911 – 26 Februarie 1989), ook bekend as "Little Jazz", was 'n Amerikaanse jazzmusikant en -trompetspeler. Sy gesofistikeerde gebruik van harmonie, insluitend sy gebruik van drietoon-substitusies, sy virtuose solo's; 'n afwyking van die dominante styl van die legendariese jazz trompetinnoveerder Louis Armstrong; en sy sterk invloed op Dizzy Gillespie, maak hom een van die mees invloedrykste musikante van die swing-era en 'n voorloper van bebop.
Biografie
[wysig | wysig bron]Vroeë lewe
[wysig | wysig bron]Eldridge is gebore op 30 Januarie 1911 in die North Side van Pittsburgh, Pennsilvanië, aan Alexander en Blanche, 'n begaafde pianis met 'n musikale oor, 'n gawe wat Eldridge beweer het hy van haar geërf het.[1] Eldridge het die klavier op 5-jarige ouderdom begin speel; hy het beweer dat hy selfs op dié jong ouderdom verstaanbare bluesmusiek kon speel. [2] Die jong Eldridge het opgesien na sy ouer broer, Joe Eldridge (gebore as Joseph Eldridge, 1908, North Side van Pittsburgh, Pennsilvanië, sterf op 5 Maart 1952), veral vanweë Joe se musikale talent vir die viool, alt-saxofoon en klarinet.[3] Roy het op 6-jarige ouderdom tromme begin speel, lesse ontvang en by plaaslike instellings trom gespeel.[4] Joe het besef dat sy jonger broer 'n natuurlike talent vir die klaroen gehad het, wat Roy bespeel het in 'n plaaslike kerkorkes. Joe het Roy probeer oortuig om die trompet te speel. Toe Roy begin het om die tromme in sy ouer broer se orkes te speel het Joe hom vinnig oortuig om die trompet te speel, maar Roy het aanvanklik 'n powere poging aangewend om die instrument te bemeester. [5] Dit was slegs by die dood van sy moeder, toe Eldridge elf was, en sy vader se hertroue, dat hy moeite gedoen het en die instrument meer ernstig begin opneem het. Hy het hom vir ure in sy kamer afgesonder en veral geoefen op die boonste register van die trompet.[6] Roy het van vroeg af gesukkel met bladmusiek, 'n gaping in sy musikale opvoeding wat hom vir 'n groot deel van sy vroeë loopbaan sou hinder. Hy kon egter vanweë sy uitstekende oor maklik melodieë repliseer.[7]
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Vroeë loopbaan en reisende orkeste
[wysig | wysig bron]Eldridge het gedurende sy vroeë jare 'n aantal orkeste gelei en daarin gespeel, en sodoende uitgebreid getoer deur die Amerikaanse Midweste.[8] Hy is beïvloed deur die saxofoonspelers Benny Carter en Coleman Hawkins, en het homself die taak opgelê om Hawkins se 1926-solo op die "The Stampede" (deur Fletcher Henderson se orkes) te leer ten einde 'n soortgelyke styl te ontwikkel op die trompet.[9]
Eldridge het die huis verlaat nadat hy in graad 9 uit hoërskool geskors is, en op die ouderdom van sestien by 'n rondreisende orkes aangesluit het; die orkes het egter gou gevou en hy is in Youngstown, Ohio gelos.[10] Hy is toe deur die "Greater Sheesley Carnival" ingeneem, maar het na Pittsburgh teruggekeer.[11] Eldridge het gou werk gevind in 'n klein orkes wat deel was van die rondreisende "Rock Dinah"-groep[12]; sy optrede as deel van die orkes het die swing-era orkesleier Count Basie daartoe beweeg om die jong Roy Eldridge te beskryf as "die beste trompet wat ek nog ooit in my lewe gehoor het."[13] Eldridge het voortgegaan om met soortgelyke reisende groepe te speel totdat hy op die ouderdom van 17 na Pittsburgh teruggekeer het.[14]
Op die ouderdom van 20 het Eldridge 'n orkes in Pittsburgh, bekend as "Roy Elliott and his Palais Royal Orchestra", gelei[15]. Die agent het doelbewus Eldridge se naam verander omdat "hy gedink het dat dit meer stylvol is."[16] Eldridge het hierdie posisie verlaat om vir die orkes van Horace Henderson, jonger broer van die bekende New Yorkse-orkesleier Fletcher Henderson, uit te probeer, en by die ensemble aangesluit, wat bekendgestaan het as The Fletcher Henderson Stompers, Under the Direction of Horace Henderson.[17] Eldridge het toe saam met 'n aantal ander orkeste gespeel en vir 'n kort rukkie in Detroit gebly voordat hy by Speed Webb se orkes aangesluit het, wat, nadat hulle 'n mate van filmpublisiteit ontvang het, 'n toer deur die Midweste aangepak het.[18] Baie lede van Webb se orkes, wat geïrriteer is deur Webb se gebrek aan toewyding, het die orkes verlaat om 'n soortgelyke orkes te stig, met Eldridge as orkesleier. [19] Die ensemble was van korte duur, en Eldridge het kort hierna na Milwaukee verhuis, waar hy aan 'n beroemde wedstryd deelgeneem het teen die trompetspeler Cladys "Jabbo" Smith, met wie hy later goeie vriende geword het.[20]
New York en Chicago
[wysig | wysig bron]Eldridge het in November 1930 na New York verhuis en in die vroeë 1930's in verskeie orkeste gespeel, insluitend 'n aantal Harlem-dansgroepe met Cecil Scott, Elmer Snowden, Charlie Johnson en Teddy Hill.[21] Dit was gedurende hierdie tyd dat Eldridge sy bynaam, 'Little Jazz', ontvang het van die Ellington-saksofoonspeler Otto Hardwick, wat geamuseerd was deur die teenstrydigheid tussen Eldridge se raserige spel en sy kort statuur.[22] Op hierdie tydstip het Eldridge ook plate en radio-uitsendings onder sy eie naam gemaak. Hy het sy eerste solo opnames gemaak saam met Teddy Hill in 1935, en dit het byna onmiddellik sukses behaal.[21] Vir 'n kort tydjie het hy ook sy eie groep gelei by die bekende Famous Door-nagklub.[21] In Julie 1935 het Eldridge 'n aantal opnames gemaak saam met die sanger Billie Holiday, insluitende "What a Little Moonlight Can Do" en "Miss Brown to You", met gebruikmaking van 'n improvisasiestyl wat beïnvloed is deur Dixieland.[23] In Oktober 1935 het Eldridge by Fletcher Henderson se orkes aangesluit en hooftrompet gespeel en af en toe gesing.[21] Eldridge was tot vroeg September 1936, toe hy die orkes verlaar het, Henderson se bekendste solis, met sy talent wat duidelik geblyk het uit treffers soos "Christopher Columbus" en "Blue Lou."[24] Sy ritmiese krag was 'n dinamiese kenmerk van die jazz van die jare. Daar is gesê dat "from the mid-Thirties onwards, he had superseded Louis Armstrong as the exemplar of modern 'hot' trumpet playing".[25]
In die Herfs van 1936 het Eldridge na Chicago verhuis om 'n oktet te stig saam met sy ouer broer Joe Eldridge. Die ensemble het nagtelike uitsendings en opnames gemaak wat die jonger Eldridge se uitgebreide solo's bevat het, insluitende treffers soos "After You've Gone" en "Wabash Stomp."[21] Eldridge het vanaf 1938, ontnugter deur die musiekindustrie, opgehou speel om radio ingenieurswese te studeer.[15] Teen 1939 het hy egter weer begin musiek speel, toe hy 'n 10-lid-orkes gestig het wat die inwonende orkes was by New York se Arcadia Ballroom.[21]
Met Gene Krupa se orkes
[wysig | wysig bron]In April 1941, nadat hy verskeie aanbiedinge van blanke swinggroepe ontvang het, het Eldridge by Gene Krupa se orkes aangesluit. Hy was 'n reuse sukses saam met die nuweling-sangeres Anita O'Day.[26] Deur hierdie posisie te aanvaar het Eldridge een van die eerste swart musikante geword wat 'n permanente lid van 'n blanke orkes geword het.[27] Eldridge het 'n belangrike rol gespeel in die verandering van die verloop van Krupa se orkes van pop-georiënteerde "schmaltz" na jazz.[28] Die orkes se "cover" van Jimmy Dorsey se "Green Eyes," voorheen 'n volledig orkestrale stuk, is omskep in 'n jazz-werk deur Eldridge; die kritikus Dave Oliphant het opgemerk dat Eldridge die deuntjie "opgehef" het "na 'n hoër vlak van intensiteit."[29] Eldridge en O'Day het deelgeneem aan 'n aantal opnames, insluitend die nuwe treffer "Let Me Off Uptown" en "Knock Me a Kiss".[22] Een van Eldridge se bekendste opgeneemde solo's kan gehoor word op 'n vertolking van Hoagy Carmichael se deuntjie, "Rockin' Chair", wat rangskik is deur Benny Carter in concertovorm.[30] Die kritikus en skrywer Dave Oliphant beskryf Eldridge se unieke klank op "Rockin' Chair" as "a raspy, buzzy tone, which enormously heightens his playing's intensity, emotionally and dynamically" en skryf dat dit "was also meant to hurt a little, to be disturbing, to express unfathomable stress."[30]
Na klagtes van Eldridge dat O'Day sy kollig gesteel het, het die groep opgebreek toe Krupa in Julie 1943 vir daggabesit tronk toe gestuur is.[31]
Vryskutwerk en toere
[wysig | wysig bron]Nadat hy Krupa se orkes verlaat het, het Eldridge gedurende 1943 in New York vryskutwerk as trompetspeler gedoen voordat hy in 1944 by Artie Shaw se orkes aangesluit het. As gevolg van rasse-voorvalle terwyl hy in Shaw se orkes gespeel het, het hy in Oktober 1945 vertrek om sy eie groot-orkes te stig,[26] maar dit was finansieel onsuksesvol en uiteindelik het hy teruggekeer na 'n meer doeltreffende, kleiner orkes.[26]
In die naoorlogse jare het hy deel geword van die groep wat onder die Jazz at the Philharmonic-vaandel getoer het.[26] en een van die staatmakers van die toere geword. Norman Granz, organiseerder van die JATP, het gesê dat Roy Eldridge die gees van jazz tipeer. "Every time he's on he does the best he can, no matter what the conditions are. And Roy is so intense about everything, so that it's far more important to him to dare, to try to achieve a particular peak, even if he falls on his ass in the attempt, than it is to play safe. That's what jazz is all about."[32]
Eldridge het in 1950 na Parys, Frankryk, verhuis terwyl hy saam met Benny Goodman op toer was, voordat hy in 1951 na New York teruggekeer het om 'n orkes by die Birdland jazzklub te lei. Hy het ook vanaf 1952 tot die vroeë 1960's in klein orkeste opgetree saam met onder andere Coleman Hawkins, Ella Fitzgerald en Earl Hines, en het ook op hierdie tydstip vir Granz begin opneem.[26] Teen 1956 is sy opnames op nasionale radionetwerke deur Ben Selvin uitgesaai as deel van die RCA Thesauris transcriptions-biblioteek.[33] Eldridge het ook van laat-1963 tot Maart 1965 saam met Ella Fitzgerald getoer en van Julie tot September 1966 saam met Count Basie voordat hy teruggekeer het na vryskutwerk en toere tydens feeste.[26]
In 1960 het Eldridge saam met Abbey Lincoln, Charles Mingus, Eric Dolphy, Kenny Dorham en ander deelgeneem aan opnames deur die Jazz Artists Guild, 'n kortstondige groepering wat deur Mingus en Max Roach gevorm is as 'n reaksie op die vermeende kommersialisme van die Newport Festival. [34] Dit het gelei tot die Newport Jazz Rebels LP.
Latere lewe
[wysig | wysig bron]Eldridge was vir etlike jare (vanaf 1969) die leier van die orkes by Jimmy Ryan se jazzklub op Manhattan se West 54th Street.[22] Alhoewel Ryan's hoofsaaklik 'n Dixieland-venue was, het Eldridge probeer om die tradisionele Dixieland-styl te kombineer met sy eie meer uitgaande en vinnige spel. Eldridge is in 1970 neergevel deur 'n beroerte, maar het kort daarna voortgegaan om die groep by Ryan's te lei en by tye gesing en die tromme en klavier behartig.[35] Die skrywer Michael Zirpolo, wat Eldridge by Ryan's in die laat-1970's gesien het, het opgemerk: "I was amazed that he still could pop out those piercing high notes, but he did, with frequency....I worried about his health, because the veins at his temples would bulge alarmingly."[36] As leier by Ryan's, was Eldridge bekend vir sy "hijinx", insluitend impromptu "amateur-aand"-sessies waartydens hy onervare spelers op die verhoog sou nooi om sy orkes te lei, dikwels vir komiese effek en om homself 'n blaaskans te gee.[37] In 1971 is Eldridge opgeneem in die tydskrif DownBeat se Jazz-eregalery.
'n Queens-straatteken by Liberty Avenue is opgedra aan Eldridge. Dit is deel van die Jazz Greats langs die Van Wyck Expressway, wat Queens herdenk as die tuiste van jazz in die 1940's en '50's. Sy huis was geleë in Hollis, Queens.

Nadat hy in 1980 'n hartaanval gekry het, het Eldridge opgehou om die trompet te speel.[35] Hy het egter soms klavier gespeel en kan so laat as 1986 gehoor word in 'n vertolking van Marian McPartland se "Piano Jazz". Hy is op 78-jarige ouderdom oorlede in die Franklin General Hospital in Valley Stream, New York, drie weke na die dood van sy vrou, Viola.[22]
Invloede
[wysig | wysig bron]Volgens Eldridge was Rex Stewart sy eerste groot invloed op die trompet. Stewart het saam met die jong Roy en sy broer Joe in 'n orkes gespeel in Pittsburgh.[38] Anders as baie trompetspelers, het die jong Eldridge nie die meeste van sy inspirasie van ander trompetspelers gekry nie, maar van saksofoniste. Eldridge het aanvanklik sy solostyl ontwikkel deur saam te speel met opnames van Coleman Hawkins en Benny Carter, en later gesê dat, nadat hy hierdie musikante gehoor het: "Ek my voorgeneem het om my trompet soos 'n saxofoon te speel."[39] Deur hierdie musikante te volg, het Eldridge klaarblyklik vir hom 'n voordeel beding, want Eldridge het een van sy eerste werke gekry deur tydens 'n oudisie Coleman Hawkins se solo op Fletcher Henderson se "Stampede" van 1926 na te doen.[40] Eldridge beweer voorts dat hy die styl van die blanke kornetspelers Loring "Red" Nichols en Theodore "Cuban" Bennett bestudeer het, wie se styl ook baie deur die saksofoon beïnvloed is.[41] Eldridge, in sy eie woorde, is nie beduidend beïnvloed deur die trompetspeler Louis Armstrong gedurende sy vroeë jare nie, maar het wel 'n groot studie van Armstrong se styl in 1932 onderneem.[21]
Musikale impak
[wysig | wysig bron]Eldridge se vinnige spel en uitgebreide ontwikkeling van die instrument se boonste register het 'n groot invloed uitgeoefen op Dizzy Gillespie, wat saam met Charlie Parker, verantwoordelik was vir die ontstaan van bebop. Snitte soos "Heckler's Hop", uit Eldridge se kleinorkes-opnames met die altsaxofonis en klarinettis Scoops Carry, waarin Eldridge se gebruik van die hoë register veral beklemtoon word, was veral invloedryk vir Dizzy.[42] Dizzy het in die vroeë 1940's die kans gekry om aan talle "jam sessions" en "trompetgevegte" met Eldridge by New York se Minton's Playhouse deel te neem.[43] Met verwysing na Eldridge, het Dizzy so ver gegaan as om te sê: "He was the Messiah of our generation."[44] Eldridge het die eerste keer kans gekry om Dizzy te hoor op orkesleier Lionel Hampton se 1939-opname van "Hot Mallets", en het dit later in herinnering geroep: "I heard this trumpet solo and I thought it was me. Then I found out it was Dizzy."[45] 'n Noukeurige luisteraar van bebop-standaardwerke soos byvoorbeeld die liedjie "Bebop", sal besef hoeveel Eldridge hierdie genre van jazz beïnvloed het. Eldridge het ook beweer dat hy nie beïndruk was met Dizzy se bop-solo-styl nie, en het een keer aan die bebop-trompetspeler Howard McGhee, nadat hy saam met Dizzy by die Heat Wave-klub in Harlem opgetree het, gesê: "I don't dig it...I really don't understand him."[46] Alhoewel Eldridge algemeen beskou word as die brug tussen Louis Armstrong en Dizzy Gillespie, het Eldridge altyd daarop aangedring: "I was never trying to be a bridge between Armstrong and something."[47]
Ander belangrike musikante wat deur Roy Eldridge beïnvloed is, sluit in Shorty Sherock van die Bob Crosby-orkes,[48] en die bebop-pioniers, Howard McGhee en Fats Navarro.[49]
Persoonlikheid
[wysig | wysig bron]Eldridge was bekend om sy mededingende aard deur die wat hom geken het. Die pianis Chuck Folds het gesê: "Ek kan my nie voorstel dat iemand meer mededingend was as hy [Roy] in die 1970's nie. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat skranderer as Roy was nie, ooit, ooit, ooit."[50] Eldridge het sy mededingende gees ten volle erken en gesê: "I was just trying to outplay anybody, and to outplay them my way."[51] Volgens die Jazz-trompetspeler Jonah Jones het Eldridge se bereidwilligheid "to go anywhere and play against anyone" selfs gelei tot 'n wedstryd ("cutting contest") teen sy eie held, Rex Stewart.[52] Roy kon ook antagonisties wees, veral in die gesig van diegene wat hy as rassisties beskou het.[53] Baie het kennis geneem van Roy se konstante rusteloosheid saam met die saxofonis Billie Bowen en het opgemerk dat Roy "nooit, selfs as 'n jongeling, vir meer as 'n paar minute kon stilsit nie, hy was altyd rusteloos."[54] Daar word ook gesê dat Eldridge aan sporadiese verhoogvrees gely het. Hy het soms ook moeilikheid gehad met vroue: hy is op 'n keer gedwing om sy trompet te verkwansel ten einde 'n gedeelte van die geld terug te kry wat van hom gesteel is deur 'n vrou by wie hy die nag in 'n besope toestand deurgebring het.[55] Volgens die klarinettis Joe Muranyi het Roy later in sy lewe 'n vurige humeur ontwikkel. Muranyi het saam met Eldridge by Ryan's gewerk en het Eldridge se humeur as volg beskryf "Mt. Vesuvius to the fifth power".[15]
Diskografie
[wysig | wysig bron]
Foto deur William P. Gottlieb
- The Big Band of Little Jazz (Topaz, 1935–45) met Dickie Wells, Benny Goodman, Benny Carter, Teddy Wilson, Gene Krupa en John Kirby
- Heckler's Hop (Hep Records, 1936–1939) met Gene Krupa, Benny Goodman en Helen Ward
- After You've Gone (Decca/GRP, 1936–46) met Ike Quebec, Cecil Payne, Billy Taylor, Sahib Shihab en Wilbur De Paris
- Roy Eldridge 1943–1944 (Classics); 1945–1947 (Classics)
- Roy Eldridge in Paris (Vogue, 1950/51)
- Roy's Got Rhythm (EmArcy Records, 1951)
- Nuts (Disques Vogue, 1950) met Zoot Sims, Dick Hyman en Pierre Michelot
- French Cooking (Vogue, 1950–51) met Raymond Fol en Barney Spieler
- Rockin' Chair (Clef Records, 1951–52, [1955])
- Dale's Wail (Clef, 1953, [1955])
- The Strolling Mr. Eldridge With The Oscar Peterson Trio (Clef, 1954)
- Little Jazz (Clef, 1954)
- Roy and Diz (Clef, 1954) met Dizzy Gillespie
- Swingin' on the Town (Verve Records, 1960)
- Oscar Peterson and Roy Eldridge
- Little Jazz (1957; 7"; EmArcy [Mercury]) (plus Charlie Shavers, Joe Thomas, Jonah Jones & Emmett Berry) (prebop jazz/swing styl)
- The Coleman Hawkins, Roy Eldridge, Pete Brown, Jo Jones All Stars at Newport (Verve, 1957)
- The Complete Verve Roy Eldridge Studio Sessions (Mosaic, later Verve)
- "Newport Rebels" (Candid Records, 1960)
- The Nifty Cat (Master Jazz/New World, 1970) met Budd Johnson, Benny Morton en Nat Pierce
- The Trumpet Kings Meet Joe Turner (Pablo Records, 1974) met Big Joe Turner, Dizzy Gillespie, Harry "Sweets" Edison en Clark Terry
- Roy Eldridge and Oscar Peterson (Original Jazz Classics, 1974) Duo-opname
- Little Jazz and the Jimmy Ryan All-Stars (Pablo, 1975) met Dick Katz en Major Holley
- Happy Time (Pablo, 1975)
- Jazz Maturity...Where It's Coming From (Pablo, 1975)
- Oscar Peterson and The Trumpet Kings - Jousts (Pablo, 1975)
- The Trumpet Kings at Montreux '75 (Pablo) met Dizzy Gillespie en Clark Terry
- What It's All About (Pablo, 1976) met Milt Jackson en Budd Johnson
- Roy Eldridge 4 - Montreux 1977 (Pablo, 1977) met Oscar Peterson, Niels-Henning Ørsted Pedersen en Bobby Durham
- Roy Eldridge & Vic Dickenson (Storyville Records, 1978) met Tommy Flanagan
- Heckler's Hop (Hep, 1995)
As sideman
[wysig | wysig bron]Met Count Basie
- Count Basie at Newport (Verve, 1957)
- Basie Swingin' Voices Singin' (ABC-Paramount, 1966)
- Broadway Basie's...Way (Command, 1966)
- Count Basie Jam Session at the Montreux Jazz Festival 1975 (Pablo, 1975)
Met Herb Ellis
- Nothing But the Blues (Verve, 1958)
Met Ella Fitzgerald
- Ella at Juan-Les-Pins (Verve, 1964)
Met Paul Gonsalves
- Mexican Bandit Meets Pittsburgh Pirate (Fantasy Records, 1973)
Met Coleman Hawkins
- Disorder at the Border (Spotlite, 1952 [1973])
- Coleman Hawkins and Confrères (Verve, 1958)
- Hawkins! Eldridge! Hodges! Alive! At the Village Gate! (Verve, 1962)
Met Johnny Hodges
- Blues-a-Plenty (Verve, 1958)
- Not So Dukish (Verve, 1958)
- Triple Play (RCA Victor, 1967)
Met Illinois Jacquet
- Swing's the Thing (Clef, 1956)
Met Jo Jones
- The Main Man (Pablo, 1977)
Met Gene Krupa en Buddy Rich
- The Drum Battle (Verve, 1952 [1960])
Met Anita O'Day en The Three Sounds
- Anita O'Day & the Three Sounds (Verve, 1962) - 1 snit
Met Buddy Tate
- Buddy Tate and His Buddies (Chiaroscuro, 1973)
Met Art Tatum
- The Art Tatum - Roy Eldridge - Alvin Stoller - John Simmons Quartet (Clef, 1955); The Tatum Group Masterpieces met John Simmons (bas), Alvin Stoller (tromme) (heruitgereik Pablo, 1975)
Met Ben Webster
- Ben Webster and Associates (Verve, 1959)
Met Lester Young
- Laughin' to Keep from Cryin' (Verve, 1958)
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Chilton, pp. 4–5.
- ↑ Chilton, p. 5.
- ↑ Chilton, pp. 5–6.
- ↑ Chilton, p. 6.
- ↑ Chilton, p. 7.
- ↑ Chilton, p. 8.
- ↑ Chilton, p. 9.
- ↑ Eldridge, (David) Roy in Oxford Music Online Gunther Schuller, Oxford Music Online. Opgespoor op 26 Maart 2012.
- ↑ Lyttelton, p. 410.
- ↑ Chilton, pp. 12–13.
- ↑ Chilton, pp. 14–16.
- ↑ Chilton, p. 16.
- ↑ Basie, soos aangehaal in Chilton, bl. 18.
- ↑ Chilton, p. 22.
- ↑ 15,0 15,1 15,2 Balliett, p. 151.
- ↑ Eldridge, soos aangehaal in Chilton, p. 22.
- ↑ Chilton, p. 25.
- ↑ Chilton, pp. 32-34, 37.
- ↑ Chilton, pp. 39-40
- ↑ Chilton, pp. 40–42.
- ↑ 21,0 21,1 21,2 21,3 21,4 21,5 21,6 Robinson, p. 691.
- ↑ 22,0 22,1 22,2 22,3 Wilson, John S. (28 Februarie 1989). "Roy Eldridge, 78, Jazz Trumpeter Known for Intense Style, Is Dead". The New York Times.
- ↑ Oliphant, pp. 343–44.
- ↑ Oliphant, pp. 51–52.
- ↑ Lyttelton, p. 414.
- ↑ 26,0 26,1 26,2 26,3 26,4 26,5 Robinson, p. 692.
- ↑ Oliphant, p. 326.
- ↑ Olipihant, pp. 304–305.
- ↑ Oliphant, p. 307.
- ↑ 30,0 30,1 Oliphant, bl. 308.
- ↑ O'Day, pp. 102–123.
- ↑ Aangehaal in Steve Voce, Obituary Norman Granz, The Independent, 26 November 2001. Opgespoor op 20 November 200.
- ↑ The Billboard Music-Radio - "Thesaurus in Pact for Granz Transscriptions" 18 Augustus 1956 bl. 39 Ben Selvin RCA Thesaurus op Google Books.com
- ↑ Verwys na in die notas tot die LP deur Nat Hentoff, hier aangehaal:
- ↑ 35,0 35,1 Wilson, "Roy Eldridge's Ambition".
- ↑ Zirpolo, p. 54.
- ↑ Zirpolo, bl. 55.
- ↑ Chilton, p. 10.
- ↑ Chilton, pp. 11-12
- ↑ Giddins, p. 69.
- ↑ Chilton, p. 14.
- ↑ Oliphant, p. 388.
- ↑ Robinson, pp. 692–93.
- ↑ Gillespie, aangehaal in Giddins, p. 70.
- ↑ Eldridge, aangehaal in Wilson, "Roy Eldridge's Ambition".
- ↑ Eldridge, aangehaal in Deveaux, p. 73.
- ↑ Wilson, "Roy Eldridge: Jazz Trumpeter for All Decades".
- ↑ Oliphant, p. 294.
- ↑ Deveaux, p. 66.
- ↑ Folds, aangehaal in Chilton, bl. 3.
- ↑ Eldridge, aangehaal in Wilson, "Roy Eldridge: Jazz Trumpeter for All Decades".
- ↑ Jones, aangehaal in Chilton, p. 30.
- ↑ Chilton, p. 3.
- ↑ Bowen, aangehaal in Chilton, bl. 32.
- ↑ Chilton, p. 38.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Balliett, Whitney. "Little Jazz." The New Yorker 61.43 (1985): pp. 151–59. RILM Abstracts of Music Literature.. Opgespoor op 14 April 2012.
- Chilton, John. Roy Eldridge, Little Jazz Giant. New York: Continuum, 2002. Print. ISBN 0-8264-5692-8.
- Deveaux, Scott and Howard McGhee. "Jazz in the Forties." The Black Perspective in Music 15.1 (Spring 1987): 64–78. JSTOR. Web. Opgespoor op 14 April 2012.
- Lyttelton, Humphrey. The Best of Jazz. Robson Books, 1998. ISBN 1-86105-187-5.
- Giddins, Gary. "The Excitable Roy Eldridge." Rhythm-a-ning: Jazz Tradition and Innovation in the '80s. New York: Drukpers van die Universiteit van Oxford, 1985. ISBN 0-19-503558-5.
- "Gene Krupa Fined After Socking Manager for Refusal to Admit Colored Boy Roy Eldridge in Pa. Restaurant." Cleveland Gazette, 3 Januarie 1942: 2. America's Historical Newspapers. Web. 14 April 2012.
- Obituary Norman Granz, The Independent, 25 November 2001. Opgespoor op 20 November 2008.
- O'Day, Anita and George Eels. High Times, Hard Times. New York: Limelight, 1981. ISBN 0-87910-118-0.
- Oliphant, Dave: The Early Swing Era: 1930–1941. Westport: Greenwood Press, 2002. ISBN 0-313-30535-8.
- Robinson, J. Bradford en Barry Kernfeld. "Eldridge, Roy." The New Grove Dictionary of Jazz, 2de uitgawe. Red. Barry Kernfeld. New York: Grove, 2002. ISBN 1-56159-174-2.
- Schuller, Gunther. "Eldridge, (David) Roy ['Little Jazz']." Oxford Music Online. [1]. Opgespoor op 26 Maart 2012.
- Wilson, John S. "Roy Eldridge, 78, Jazz Trumpeter Known for Intense Style, Is Dead." New York Times 28 Februarie 1989: 7. Newspaper Source.. Opgespoor op 14 April 2012.
- Wilson, John S. "Roy Eldridge's Ambition: 'To Outplay Anybody.'" New York Times 30 Junie 1981: C5. ProQuest Historical Newspapers. Web. Opgespoor op 14 April 2012.
- Wilson, John S. "Roy Eldridge: Jazz Trumpeter for All Decades." New York Times 17 Oktober 1982: H25. ProQuest Historical Newspapers. Web. 14 April 2012.
- Zirpolo, Michael P. "Sitting in with Roy Eldridge at Jimmy Ryan's." The IAJRC Journal 42.2 (2009): 54. RILM Abstracts of Music Literature. Web. 14 April 2012