Gaan na inhoud

Skinhead

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n SHARP-skinhead. SHARP staan vir Skinheads Against Racial Prejudice.

'n Skinhead of skeerkop is lid van 'n subkultuur wat in die 1960's onder jeugdiges van die werkersklas in Londen, Engeland, ontstaan het. Dit het gou na ander dele van die Verenigde Koninkryk versprei, terwyl 'n tweede skinheadbeweging in die laat 1970's wêreldwyd ontstaan het.

Hulle word gemotiveer deur sosiale vervreemding en werkersklassolidariteit, en word gekenmerk deur kort geskeerde hare of poenskoppe, asook werkersklasklere soos werkstewels met staalpunte, kruisbande en jeans met regaf broekspype. Die beweging het aan die einde van die 1960's 'n hoogtepunt bereik en het in die 1980's herleef. Sedertdien bestaan dit wêreldwyd in verskillende vorme voort.

Skinheads van beide die eerste en tweede generasie word beïnvloed deur ritmes van Jamaikaanse musiekgenres soos ska, rocksteady en reggae, sowel as Afro-Amerikaanse soul en R&B.[1][2][3]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Ontstaan en eerste vlaag

[wysig | wysig bron]

In die laat 1950's het die naoorlogse ekonomiese oplewing gelei tot 'n toename in beskikbare inkomste onder baie jongmense. Sommige van hulle het dié inkomste gebruik om nuwe klere aan te skaf. Hulle het geskeurde klere gedra en stukke materiaal gebruik om dit te lap, soos gewild gemaak is deur Amerikaanse soulgroepe, Britse R&B-groepe en sekere rolprentakteurs. Hierdie jongmense het bekend gestaan as mods, 'n jeugsubkultuur wat gekenmerk is deur verbruikersgedrag en 'n toewyding aan mode, musiek en bromponies.

Vroulike skinheads in 2008 in Portugal.

Mods van die werkersklas het praktiese klerestyle verkies wat by hulle leefstyl en werksomstandighede gepas het: werk- of leërstewels, denims met regaf broekspype en hemde met knope en kruisbande. Waar moontlik het hulle hulle geld bestee aan pakke en ander deftige uitrustings vir danssaalbyeenkomste, waar hulle soul, ska en rocksteady geniet het.

Omstreeks 1966 het 'n skeuring ontstaan tussen die peacock mods (ook bekend as die smooth mods), wat minder gewelddadig was en altyd die nuutste, duur klere gedra het, en die hard mods (ook bekend as gang mods, lemonheads of peanuts), wat uitgeken is aan hulle korter hare en voorkoms nader aan dié van die werkerklas. Teen 1968 het hard mods algemeen bekend geword as skinheads. Hulle kort hare kon om praktiese redes ontstaan het, aangesien lang hare 'n probleem kon wees in nywerheidswerk en straatgevegte. Skinheads het moontlik ook hulle hare kort geknip uit verset teen die hippiekultuur van die middelklas.

Vroeë skinheads is sterk beïnvloed deur die Jamaikaanse rude boy-style en -kultuur, veral die musiek: ska, rocksteady en vroeë reggae (voor die tempo stadiger geword het en lirieke gefokus het op swart nasionalisme en die Rastafariërbeweging).

Teen 1969 was die skinheadkultuur so gewild dat selfs die rockgroep Slade tydelik dié voorkoms aangeneem het as deel van hulle bemarkingstrategie. Die subkultuur het groter aandag gekry weens ’n reeks gewelddadige en seksueel eksplisiete romans deur Richard Allen, veral Skinhead en Skinhead Escapes. As gevolg van grootskaalse Britse migrasie na Perth, Wes-Australië, het baie Britse jongmense in dié stad teen die laat 1960's by skinheadbendes aangesluit en hulle eie Australiese styl ontwikkel.

Teen die vroeë 1970's het die skinheadsubkultuur begin verdwyn uit die populêre kultuur, en sommige van die oorspronklike skinheads is in nuwe kategorieë opgeneem, soos die suedeheads (wat hulle hare met 'n kam kon stileer), smoothies (dikwels met skouerlengtehare) en bootboys (wat mod-lengte-hare gehad het en met bendes en sokkergeweld verbind is). Sekere modeneigings het teruggekeer na hulle mod-wortels, met velskoene, aanglipskoene, pakke en die broek-en-trui-voorkoms wat weer in die mode gekom het.

Hoxton Tom McCourt.

Tweede vlaag

[wysig | wysig bron]

In die laat 1970's het die skinheadsubkultuur in 'n noemenswaardige mate herleef ná die opkoms van punk rock.[4] Die meeste van dié nuwe skinheads het teen die kommersialisering van punk gereageer deur ’n voorkoms aan te neem wat ooreenstem met die oorspronklike 1969-skinheadstyl. Dié herlewing het figure soos Gary Hodges en Hoxton Tom McCourt ingesluit (albei later van die groep The 4-Skins), asook Suggs, wat later by die groep Madness aangesluit het. Omstreeks dié tyd het sommige skinheads hulleself begin vereenselwig met regsradikale groepe soos die National Front en die British Movement.[5]

Van 1979 af het skinheads wat deur punk beïnvloed is, met korter hare, hoër stewels en minder klem op tradisionele style, in getalle toegeneem en media-aandag getrek, meestal as gevolg van sokkervandalisme. Daar was egter steeds skinheads wat die oorspronklike, mod-geïnspireerde style verkies het.[6]

Uiteindelik het verskillende interpretasies van die skinhead-subkultuur verder versprei as Brittanje en die Europese vasteland. In die Verenigde State het sekere groepe op die hardcore punk-toneel die skinheadstyl aangeneem en hulle eie weergawe van die subkultuur ontwikkel.[7]

Bill Osgerby het aangevoer die skinheadkultuur put in die breë sy krag uit spesifieke ekonomiese omstandighede. In 'n BBC-onderhoud het hy gesê: “In die laat 70’s en vroeë 80’s het werkersklaskultuur begin verbrokkel as gevolg van werkloosheid en verval in binnestedelike gebiede, en daar was ’n poging om ’n gevoel van werkersklassolidariteit en -identiteit te herwin te midde van 'n vloed sosiale veranderings.”[8]

Musiek

[wysig | wysig bron]
Die Kanadese black metal-groep Blasphemy, wat beskryf is as "black metal skinheads".[9]

Die skinheadsubkultuur is oorspronklik verbind met swart musiekgenres soos soul, ska, R&B, rocksteady en vroeë reggae. Die verband tussen skinheads en Jamaikaanse musiek het in Brittanje gelei tot die gewildheid van groepe soos Desmond Dekker, Derrick Morgan, Laurel Aitken, Symarip en The Pioneers.

Die Britse skinheadgroep The 4-Skins in 1980.

In die vroeë 1970's het sommige reggaeliedjies begin om temas van swart nasionalisme te bevat waarmee baie wit skinheads nie kon identifiseer nie. Hierdie verandering in reggae se lirieke het spanning veroorsaak tussen swart en wit skinheads, wat andersins redelik goed met mekaar oor die weg gekom het. Omstreeks dieselfde tyd het sommige suedeheads begin luister na Britse glam rock-groepe soos Sweet, Slade en Mott the Hoople.

Die gewildste musiekstyl onder skinheads van die laat 1970's was 2 Tone, ’n samesmelting van ska, rocksteady, reggae, pop en punk rock. Die 2 Tone-genre is genoem na 2 Tone Records, ’n Coventry-gebaseerde plate-etiket van groepe soos The Specials, Madness en The Selecter. Sommige skinheads het in dié tyd ook van sekere punk rock-groepe gehou, soos Sham 69 en Menace.

In die laat 1970's, ná die eerste golf van punk rock, het baie skinheads Oi!, ’n werkersklas-punk-subgenre, omhels. Musikaal kombineer Oi! tradisionele punk met elemente van sokkerliedjies, pub rock en Britse glam rock. Die Oi!-toneel was gedeeltelik ’n reaksie op die gevoel dat baie deelnemers aan die vroeë punktoneel, in die woorde van The Business se kitaarspeler Steve Kent, “modieuse universiteitsmense was wat lang woorde gebruik, probeer kunssinnig wees . . . en kontak verloor het”.

Die term Oi! as musiekgenre is na bewering afkomstig van die groep Cockney Rejects en die joernalis Garry Bushell, wat die genre in die tydskrif Sounds bevorder het. Dit was nie uitsluitlik ’n skinheadgenre nie, maar baie Oi!-groepe het skinheads en punks ingesluit. Noemenswaardige Oi!-groepe van die laat 1970's en vroeë 1980's sluit in Angelic Upstarts, Blitz, The Business, Last Resort, The Burial, Combat 84 en The 4-Skins.

Onder sommige skinheads is heavy metal ook gewild. Groepe soos die Kanadese groep Blasphemy is bekend daarvoor dat hulle die frase “black metal skinheads” gewild gemaak en bemark het.

Rassisme, antirassisme en politiek

[wysig | wysig bron]
Anargistiese, antifascistiese en antirassistiese skinheads in Hannover, Duitsland.

Die vroeë skinheads was nie noodwendig deel van enige politieke beweging nie, maar namate die 1970's gevorder het, het baie polities aktiewer geword, en voorvalle van rasgemotiveerde skinheadgeweld het in die Verenigde Koninkryk begin voorkom. As gevolg van hierdie verandering onder skinheads het regsradikale groepe soos die National Front en die British Movement ’n toename in witmagskinheads in hulle geledere gesien.[4] Teen die laat 1970's het die massamedia – en gevolglik ook die algemene publiek – grootliks die skinheadsubkultuur begin beskou as een wat rassisme en neo-Nazisme bevorder.[10] Die witmag- en neo-Nazi-skinheadsubkultuur het eindelik versprei na Noord-Amerika, Europa en ander dele van die wêreld.[4]

’n Gekruisigde skinhead – ’n simbool wat ’n gevoel van sosiale vervreemding of vervolging van skinheads uitbeeld.

Die hoofstroommedia het begin om die term skinhead te gebruik in verslae oor rassistiese geweld (ongeag of die oortreder werklik ’n skinhead was of nie);[11] dit het ’n groot rol gespeel in die verwringing van die publiek se waarneming van hulle. Drie noemenswaardige groepe wat in die 1980's gevorm is en later met witmagskinheads verbind is, is White Aryan Resistance, Blood and Honour en Hammerskins.[4]

In die laat 1970's en vroeë 1980's het baie skinheads en suedeheads in Brittanje egter beide die uiterse regse en linkse groepe verwerp. Hierdie houding is musikaal vergestalt deur Oi!-groepe. Twee noemenswaardige skinheadgroepe wat teen neo-Nazisme en politieke ekstremisme standpunt ingeneem het – en eerder tradisionele skinheadkultuur ondersteun het – was die Glasgow Spy Kids in Skotland (wat die frase Spirit of ’69 geskep het) en die uitgewers van die Hard As Nails-zine in Engeland.[12][13]

In die laat 1960's het sommige skinheads in Brittanje (insluitende swart skinheads) betrokke geraak by geweld teen Suid-Asiatiese immigrante (’n daad wat in informele spreektaal as Paki bashing bekend gestaan het).[12][14] Daar was egter ook van die begin af antirassistiese skinheads, veral in Skotland en Noord-Engeland.[12][15]

Aan die uiterse linkerkant van die skinheadsubkultuur neem redskins en anargistiese skinheads ’n militante, antifascistiese en pro-werkersklas-houding aan.[16] Die frase all cops are bastards (ACAB) is gewild gemaak onder sommige skinheads deur The 4-Skins se 1982-liedjie “A.C.A.B.”.[17][18] In Brittanje was twee groepe met ’n beduidende aantal linkse skinheads Red Action (gestig in 1981) en Anti-Fascist Action (gestig in 1985). Internasionaal is die mees noemenswaardige skinhead-organisasie Skinheads Against Racial Prejudice (SHARP), wat in 1987 in die New York-streek ontstaan en daarna na ander lande versprei het.[19]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Cornish, Lindsay; Kehler, Michael; Steinberg, Shirley R. (2010). Boy Culture: An Encyclopedia. ABC-CLIO. ISBN 9780313350818. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2020. Besoek op 3 Januarie 2020.
  2. Cashmore, E. (2013). Rastaman: The Rastafarian Movement in England. Routledge. ISBN 9781135083731. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2020. Besoek op 3 Januarie 2020.
  3. Childs, Peter; Storry, Michael (2013). Encyclopedia of Contemporary British Culture. Routledge. ISBN 978-1134755554. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2020. Besoek op 3 Januarie 2020.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 Shaffer, Ryan (2013). "The Soundtrack of Neo-Fascism: Youth and Music in the National Front". Patterns of Prejudice. 47 (4–5): 458–482. doi:10.1080/0031322X.2013.842289. S2CID 144461518.
  5. Arnold, Rebecca (2001). Fashion, Desire and Anxiety: Image and Morality in the 20th Century. I.B.Tauris. p. 43. ISBN 978-1860645556.
  6. Childs, Peter; Storry, Michael (2013). Encyclopedia of Contemporary British Culture. Routledge. p. 496. ISBN 978-1134755547. In 2009 Paul Lazarus and Phil downsborough put on an event in Margate in Kent "the Big 40, the fortieth anniversary of Skinhead" which was attended by Skinheads from Britain, the USA, Europe, Australia and Japan The event ran on a yearly basis until 2012
  7. "Rage with the Machine: A new breed of patriotic punks gets in the pit for Bush". Stuffmagazine.com. 1 November 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Mei 2008.
  8. Geoghegan, Tom (12 April 2007). "Under the skin". BBC News Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2017.
  9. "Blasphemy Black Metal Skinheads T-Shirts". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2015. Besoek op 22 April 2015.
  10. "Skinhead". Encyclopedia Britannica. (15 January 2024). 
  11. Osgerby, 1998, 65
  12. 12,0 12,1 12,2 Marshall, George. Skinhead Nation. ST Publishing, 1996. ISBN 1-898927-45-6, ISBN 978-1-898927-45-7.
  13. "Ska Party". Skinheadheaven.org.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2010. Besoek op 31 Augustus 2010.
  14. "Monty Montgomery of the Pyramids/Symarip interview". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2005. Besoek op 31 Augustus 2010.
  15. "REDSKINS — The Interview, 1986". Sozialismus-von-unten.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Februarie 2010. Besoek op 31 Augustus 2010.
  16. "REVOLUTION TIMES HOMEPAGE – Revolution Times-Interview aus Autonom # 17". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2009. Besoek op 22 April 2015.
  17. Groundwater, Colin (10 Junie 2020). "A brief history of ACAB". GQ.
  18. "ACAB". Anti-Defamation League.
  19. "Skinhead Nation: The Big Apple Bites Back". 9 Julie 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2007.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Brown, Timothy S. (1 Januarie 2004). "Subcultures, Pop Music and Politics: Skinheads and "Nazi Rock" in England and Germany". Journal of Social History. 38 (1): 157–178. doi:10.1353/jsh.2004.0079. JSTOR 3790031. S2CID 42029805.
  • Hebdige, Dick (1979). Subculture: The Meaning of Style. Londen, New York: Routledge. ISBN 9780415039499. OCLC 1087981277.
  • Osgerby, Bill (1998). Youth in Britain since 1945. Making contemporary Britain. Oxford, Malden (Mass.): Blackwell. ISBN 9780631194767.

Skakels

[wysig | wysig bron]