Chick Corea
Chick Corea | |
---|---|
![]() Corea in 2019 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Armando Anthony Corea |
Gebore | Chelsea, Massachusetts, Verenigde State | 12 Junie 1941
Sterf | 09 Februarie 2021 (op 79) Tampa, Florida, Verenigde State |
Genres |
|
Beroep(e) | |
Instrumente | |
Jare aktief | 1962–2021[1] |
Etikette |
|
Webwerf | chickcorea |
Armando Anthony "Chick" Corea (12 Junie 1941 – 9 Februarie 2021) was 'n Amerikaanse jazzmusikant, -pianis, -komponis, orkesleier en perkussiespeler.[2][3] Sy komposisies Spain, 500 Miles High, La Fiesta, Armando's Rhumba en Windows word beskou as standaard jazzwerke.[4] As lid van Miles Davis se orkes aan die einde van die 1960's het hy deel gehad aan die geboorte van jazz fusion. In die laat-1970's het hy die jazz fusion-orkes Return to Forever gestig.[3] Corea word saam met McCoy Tyner, Herbie Hancock en Keith Jarrett beskou as een van die voorste pianiste uit die era ná John Coltrane.[5]
Corea het in die 1980's en 1990's dikwels saam met ander musikante gewerk en met verskillende musikale style geëksperimenteer. Met ingang Januarie 2025 het hy 28 Grammys gewen. Hy is ook 72 keer vir dié prys benoem.
Vroeë lewe en opvoeding
[wysig | wysig bron]Armando Corea is op 12 Junie 1941 gebore in Chelsea, Massachusetts [6] aan Anna (née Zaccone) en Armando J. Corea.[2][7] Hy was van Suid-Italiaanse afkoms; sy vader was die seun van 'n immigrant uit Albi, 'n munisipaliteit in die Catanzaro-provinsie in die Kalabrië-streek.[8][9] Sy vader, 'n trompetspeler, was in die 1930's en 1940's die leier van 'n Dixielandorkes[10] uit Boston, en het die jong Corea op 4-jarige ouderdom aan die klavier bekendgestel.[11] Corea het grootgeword met jazzmusiek, en is beïnvloed deur musikante soos Dizzy Gillespie, Charlie Parker, Bud Powell, Horace Silver en Lester Young.[12] Op 11-jarige ouderdom het hy in besit gekom van 'n tromstel,[13] en hy sou vir die res van sy loopbaan by geleentheid tromme bespeel.[14]
Corea het sy klaviervaardighede ontwikkel terwyl hy op sy eie musiek verken het. Aanvanklik het sy vader hom klavier geleer, maar uiteindelik het die ouer Corea besluit dat sy seun onderrig van 'n professionele onderwyser moet ontvang. Op agtjarige ouderdom het hy formele lesse by die Italiaanse konsertpianis Salvatore Sullo begin neem. Sullo was onverskillig teenoor die jong Corea se passie vir jazz en het hom in plaas daarvan geleer om klassieke klavier te speel. Corea se blootstelling aan klassieke musiek het sy belangstelling in komposisie gestimuleer.[13]
Corea het opvoerings begin gee terwyl hy nog op hoërskool was. Hy het dit geniet om na Herb Pomeroy se orkes te luister en het 'n trio gehad wat Horace Silver se musiek by 'n plaaslike Jazzklub gespeel het. Hy het uiteindelik na New York verhuis, waar hy musiek aan Columbia-universiteit studeer het, en later ook aan die Juilliard-skool. Hy het later uitgesak sodat hy meer tyd kon spandeer aan sy opvoerings.[7]
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Corea het sy professionele opname- en toerloopbaan in die vroeë 1960's begin saam met Mongo Santamaria, Willie Bobo, Blue Mitchell, Herbie Mann en Stan Getz. In 1966 het hy sy debuutalbum, Tones for Joan's Bones, opgeneem. In Maart 1968 het hy die hoogs-aangeskrewe trio album, Now He Sings, Now He Sobs, opgeneem saam met die tromspeler Roy Haynes en die kontrabasspeler Miroslav Vitouš.[3]
Aan die einde van 1968[15] het Corea opnames begin maak saam met Miles Davis en saam met hom getoer. Hy verskyn gevolglik op die hoogs-aangeskrewe ateljee-albums Filles de Kilimanjaro, In a Silent Way, Bitches Brew en On the Corner. Hy het ook verskyn op die latere kompilasie-albums Big Fun, Water Babies en Circle in the Round. Kort na die Davis-groep se opvoering tydens die 1970 Isle of Wight Festival verlaat hy die groep.[15]
Die kontrabasspeler Dave Holland het die Davis-groep saam met Corea verlaat om hul eie groep genaamd Circle te stig saam met Anthony Braxton en die tromspeler Barry Altschul. Die groep het van 1970 tot 1971 gespeel en opnames gemaak vir die Blue Note en ECM plaatetikette.[16] In April 1971 het Corea, op aandrang van die ECM-platevervaardiger Manfred Eicher, soloklavier begin speel en die opnames gemaak wat later bekend sou staan as Piano Improvisations Vol. 1 en Piano Improvisations Vol. 2.[17] In 1974 het Corea saamgewerk met Richie Grasso op laasgenoemde se album, Season of Grace, wat vervaardig is deur Morris Levy se Tiger Lily Records.[18]
Jazz fusion
[wysig | wysig bron]
Corea se Return to Forever-orkes, wat vernoem is na hul gelyknamige 1972-album, het akoestiese en elektroniese instrumentasie gekombineer en aanvanklik meer op Spaanse musiekstyle as rockmusiek gesteun. Op hul eerste twee albums het die groep bestaan uit Flora Purim (stem en perkussie), Joe Farrell (fluit en sopraansaksofoon), Airto Moreira (tromme en perkussie) en Stanley Clarke (akoestiese kontrabas).[3] Die tromspeler Lenny White en die kitaarspeler Bill Connors het later aangesluit by Corea en Clarke om die tweede weergawe van die groep te vorm, wat die vroeëre Latynse musiekelemente met rock- en funk-georiënteerde musiek vermeng het. Hierdie inkarnasie van die groep het die album Hymn of the Seventh Galaxy opgeneem, voor Connors se vervanging deur Al Di Meola, wat later deel was van die albums Where Have I Known You Before, No Mystery en Romantic Warrior.[19] In 1976 het Corea My Spanish Heart vrygestel, wat beïnvloed is deur Latyns-Amerikaanse musiek en die vokalis Gayle Moran (Corea se vrou) ingesluit het, sowel as die violis Jean-Luc Ponty. Die album kombineer jazz en flamenco, ondersteun deur 'n Minimoog sintetiseerder en 'n horingseksie. Corea het jare later saamgewerk met die flamenco-kitaarspeler Paco De Lucía op die Touchstone en Zyryab albums.
Tweeledige projekte
[wysig | wysig bron]
In die 1970's het Corea saam met die vibrafonis Gary Burton begin werk, saam met wie hy verskeie duet-albums vir ECM opgeneem het, insluitend 1972 se Crystal Silence. Hulle het in 2006 herenig vir 'n konserttoer. 'n Nuwe album getiteld The New Crystal Silence is in 2008 uitgereik en het 'n Grammy-toekenning in 2009 gewen.
Teen die einde van die 1970's het Corea 'n reeks konserte saam met mede-pianis Herbie Hancock aangepak. Hierdie konserte is in elegante omgewings aangebied met beide kunstenaars wat formeel geklee was en op konsertvleuelklaviere gespeel het. Die twee het mekaar se komposisies gespeel, asook stukke van ander komponiste soos Béla Bartók en duette. In 1982 het Corea The Meeting opgevoer, 'n regstreekse uitsending saam met die klassieke pianis Friedrich Gulda.

In Desember 2007 het Corea 'n duet-album getiteld The Enchantment opgeneem saam met die banjospeler Béla Fleck.[20] Fleck en Corea het in 2007 uitgebreide toere onderneem vir die album. Tydens die 49ste Grammy-toekennings is Fleck benoem in die kategorie Beste Instrumentele Komposisie vir die snit "Spectacle".[21]
In 2008 het Corea saamgewerk met die Japannese pianis Hiromi Uehara op die album Duet (Chick Corea and Hiromi). Die twee het op 30 April 'n konsert gehou by Tokio se Budokan-arena.[22][23]
Latere werk
[wysig | wysig bron]Corea se ander orkeste het die Chick Corea Elektric Band, die trioweergawe daarvan bekend as Akoustic Band, 'Origin en die trioweergawe daarvan bekend as New Trio, ingesluit. Corea het in 1986 'n platekontrak met GRP Records gesluit wat gelei het tot die vrystelling van tien albums tussen 1986 en 1994, sewe met die Elektric Band, twee met die Akoustic Band, en 'n solo-album, Expressions.
Die Akoustic Band het 'n selfgetitelde album in 1989 vrygestel. In 1991 het hulle 'n lewendige opvolg-album daarop vrygestel, getiteld Alive. Beide albums het John Patitucci (kontrabas) en Dave Weckl (tromme) ingesluit. Dit was 'n terugkeer na tradisionele jazztrio-instrumentasie in Corea se loopbaan, en die grootste deel van sy daaropvolgende opnames het akoestiese klavier ingesluit.[24]
In 1992 het Corea sy eie plaatetiket, Stretch Records, gestig.[3]

In 2001 het Chick Corea se New Trio, met Avishai Cohen (kontrabas) en Jeff Ballard (tromme), die album Past, Present & Futures vrygestel. Die album van elf liedjies bevat slegs een standaard-jazzwerk (Fats Waller se "Jitterbug Waltz"). Die res van die liedjies is oorspronklike Corea-werke. Corea het deelgehad aan 1998 se Like Minds-album saam met sy ou medewerkers Gary Burton (vibrafoon), Dave Holland (kontrabas), Roy Haynes (tromme) en Pat Metheny (kitaar).
Gedurende die latere deel van sy loopbaan het Corea ook geëksperimenteer met kontemporêre klassieke musiek. Hy het sy eerste klavierconcerto gekomponeer—'n verwerking van sy stuk "Spain" vir volle simfonieorkes—en dit in 1999 saam met die Londen Filharmoniese Orkes opgevoer. In 2004 het hy sy eerste werk sonder klawerborde gekomponeer: sy strykkwartet nr. 1 is vir die Orion-strykkwartet geskryf en deur die kwartet opgevoer tydens 2004 se Summerfest in Wisconsin.
Corea het voortgegaan om "fusion" albums op te neem, soos To the Stars (2004) en Ultimate Adventure (2006). Laasgenoemde het die Grammy-toekenning vir beste jazz-instrumentele album, individu of groep, gewen.
In 2008 het die derde weergawe van Return to Forever (Corea, Stanley Clarke, Lenny White en Di Meola) herenig vir 'n wêreldwye toer. Die reünie het positiewe resensies van jazz en hoofstroompublikasies ontvang.[25] Die meeste van die groep se ateljee-opnames is heruitgegee op die kompilasie Return to Forever: The Anthology om saam te val met die toer. 'n Konsert-DVD wat tydens hul optrede by die Montreux Jazz-fees opgeneem is, is in Mei 2009 vrygestel. Corea het ook aan 'n CD saam met die sanggroep The Manhattan Transfer gewerk.
'n Nuwe groep, die Five Peace Band, het in Oktober 2008 hul wêreldtoer onderneem. Die ensemble het John McLaughlin ingesluit, saam met wie Corea voorheen gewerk het in Miles Davis se groepe uit die laat-1960's, insluitend die groep wat Davis se klassieke album, Bitches Brew, opgeneem het. Die saxofoonspeler Kenny Garrett en kontrabasspeler Christian McBride het by Corea en McLaughlin aangesluit. Die tromspeler Vinnie Colaiuta het saam met die groep in Europa en tydens uitgesoekte Noord-Amerikaanse opvoerings gespeel; Brian Blade het in al die Asiese en Australiese opvoerings gespeel, asook die grootste deel van die opvoerings in Noord-Amerika.
Die indrukwekkende omvang van Corea se musiek is gevier tydens 'n terugskouingskonsert in 2011, met Corea wat saam met die Jazz at Lincoln Center-orkes in die Lincoln-sentrum vir die uitvoerende kunste gespeel het; 'n resensent van die New York Times het die opvoering lof toegeswaai: "Mnr. Corea was meesterlik saam met die ander musikante, hy het die ritme geabsorbeer en die soliste gelei. Dit het soos 'n orkes geklink, en mnr. Corea het nie nodig gehad om te domineer nie; sy gesag was duidelik, sonder om die volume te verhoog."[26]
'n Nuwe groep, Chick Corea & The Vigil, het Corea, Hadrien Feraud (kontrabas), Marcus Gilmore (tromme), die Origin-veteraan Tim Garland (saxofoon, fluite en basklarinet) en Charles Altura (kitaar) ingesluit.
Corea het in 2016 sy 75ste verjaardag gevier deur saam met meer as 20 verskillende groepe te speel tydens 'n sesweek-lange optrede by die Blue Note Jazz Club in Greenwich Village, New York. "I pretty well ignore the numbers that make up 'age'. It seems to be the best way to go. I have always just concentrated on having the most fun I can with the adventure of music."[27]
Persoonlike lewe
[wysig | wysig bron]Corea en sy eerste vrou Joanie het twee kinders gehad, Thaddeus en Liana; die huwelik het in 'n egskeiding geëindig. In 1972 is Corea getroud met sy tweede vrou, die sanger/pianis, Gayle Moran.[28][29]
Corea het op 9 Februarie 2021 op 79-jarige ouderdom gesterf by sy huis in Tampa, Florida, kort nadat hy gediagnoseer is met 'n rare vorm van kanker.[2][7]
Wetenswaardighede
[wysig | wysig bron]- Corea is deur L. Ron Hubbard beïnvloed. Omdat hy hom by die Sciëntologie aangesluit het, wat in Duitsland as gevaarlik beskou word, kon hy nie in 1993 optree in Stuttgart nie.[30]
Diskografie (seleksie)
[wysig | wysig bron]- 1966 - Tones For Joan's Bones
- 1968 - Now He Sings, Now He Sobs (met Miroslav Vitouš en Roy Haynes)
- 1972 - Return to Forever
- 1973 - Light As A Feather (Return to Forever)
- 1976 - My Spanish Heart
- 1978 - Chick Corea with Herbie Hancock
- 1980 - In Concert, Zürich October 28, 1979 (met Gary Burton)
- 1983 - Children's Songs
- 1986 - Chick Corea Elektric Band
- 1989 - Chick Corea Akoustic Band
- 1989 - Happy Annisversary Charlie Brown
- 1990 - Inside Out
- 1996 - The Mozart Sessions (met Bobby McFerrin)
- 1999 - corea.concerto (met die Londense Filharmoniese orkes en Origin)
- 2001 - Chick Corea New Trio - Past, Present & Futures (met Avishai Cohen)
- 2003 - Rendezvous in New York
- 2004 - To the Stars (Chick Corea Elektric Band)
- 2006 - The Ultimate Adventure (Chick Corea Elektric Band)
- 2008 - The New Crystal Silence (met Gary Burton)
- 2009 - Five Peace Band Live (met John Mclaughlin)
- 2009 - Duet (met Hiromi Uehara)
- 2011 - Orvieto (met Stefano Bollani)
- 2011 - Forever
- 2012 - Further Explorations (met Eddie Gomez en Paul Motian)
- 2012 - Hot House (met Gary Burton)
- 2013 - The Vigil
- 2019 - Antidote with The Spanish Heart Band (Grammy Award for Best Latin Jazz Album 2020)
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Yanow, Scott. "Chick Corea". AllMusic. Besoek op 1 Julie 2011.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 Siemaszko, Corky (12 Februarie 2021). "Jazz Keyboard Virtuoso Chick Corea Dead from Cancer Age 79". NBC.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 Yanow, Scott. "Chick Corea – Biography". AllMusic. Besoek op 24 Januarie 2018.
- ↑ "Chick Corea". Blue Note. Besoek op 25 Julie 2017.
- ↑ Heckman, Don (18 Augustus 2001). "Playing in His Key". Los Angeles Times. Besoek op 7 Junie 2011.
- ↑ "Today in history". ABC News. Associated Press. 12 Junie 2014.
- ↑ 7,0 7,1 7,2 Russonello, Giovanni (11 Februarie 2021). "Chick Corea, Jazz Keyboardist and Innovator, Dies at 79". The New York Times. Besoek op 12 Februarie 2021.
- ↑ "Chick Corea Interview". Marktowns.com. 28 April 2024.
- ↑ "Musica Jazz, Italy – Chick Corea". Chickcorea.com. 6 Junie 2018.
- ↑ Dixieland, ook genoem hotjazz of New Orleans Style, is 'n vroeë styl van jazzmusiek wat in die vroeë twintigste eeu in New Orleans ontstaan het en van daar na Chicago en New York versprei het. Omdat die eerste jazz-plaat in 1917 deur 'n blanke orkes, die Original Dixieland Jass Band, opgeneem is is hierdie styl Dixieland genoem. Vandag word Dixieland dikwels geassosieer met blanke orkeste soos dié van Eddie Condon en Muggsy Spanier. Bekende Dixieland-treffers is Basin Street Blues en When the Saints Go Marching In.
- ↑ "Chick Corea On Piano Jazz". WWNO. 20 Januarie 2013. Besoek op 12 Februarie 2021.
- ↑ "Chick Corea". www.arts.gov. Besoek op 27 Januarie 2024.
- ↑ 13,0 13,1 Corea, Chick (Januarie–Februarie 1998). Freedom and Taste (PDF). Piano & Keyboard (Magazine). Onderhoud met Ted Rosenthal. pp. 28–34.
- ↑ "The Checkout: Steve Gadd Remembers When Chick Corea Gave Him a Lesson On the Drums". WBGO. Besoek op 27 Januarie 2024.
- ↑ 15,0 15,1 "Early Years: 1941-71 | Chick Corea". Besoek op 29 Januarie 2024.
- ↑ Layne, Joslyn. "Circle Songs, Albums, Reviews, Bio & More". AllMusic. Besoek op 29 Januarie 2024.
- ↑ Fordham, John (1 April 2010). "Chick Corea: Solo Piano, Improvisations and Children's Songs". The Guardian. Besoek op 31 Januarie 2024.
- ↑ "Richard Grasso". Bad Cat Records. Besoek op 25 November 2024.
- ↑ Anderson, Geoff (15 November 2020). "Vinyl Vault—Return to Forever: "Hymn of the Seventh Galaxy"". Besoek op 31 Januarie 2024.
- ↑ Levine, Doug (24 April 2007). "Chick Corea, Bela Fleck Collaborate On New CD". VOA News. Voice of America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2009. Besoek op 1 Januarie 2009.
- ↑ "Concord | Independent Music". Concord Entertainment Company. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Oktober 2019. Besoek op 14 Oktober 2019.
- ↑ "Website undergoing maintenance | NME.com". NME. 26 Januarie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2009.
- ↑ de Barros, Paul (15 Maart 2015). "Herbie Hancock, Chick Corea prove masters know how to have fun". The Seattle Times. Besoek op 15 Maart 2015.
- ↑ "The Chick Corea Akoustic Band. Jazz San Javier 2018". YouTube. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Augustus 2019.
- ↑ Chinen, Nate (3 Augustus 2008). "The Return of Return to Forever". The New York Times. Besoek op 1 April 2010.
- ↑ Ratliff, Ben (23 Januarie 2011). "A Jazz Man Returns to His Past". The New York Times. Besoek op 20 Junie 2013.
- ↑ "Chick Corea, 75ste verjaardagviering, 19 Oktober tot 11 December 2016," New York: Blue Note
- ↑ Zimmerman, Brian (21 Augustus 2019). "On the road with Chick: A jazz globetrotter shares his favorite spots and travel tips". jazziz.com.
- ↑ "Corea, Chick". Encyclopedia.com.
- ↑ Jazzpianist Chick Corea (1941-2021) liet horen dat jazz ook heel anders kan klinken. Het Parool, 11 Februarie 2021. Geargiveer op 18 Junie 2021.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Chick Corea. |
![]() |
Wikiquote het aanhalings in verband met Chick Corea |
- Amptelike webtuiste
- Amptelike diskografie
- 'n Onderhoud met Chick Corea deur Bob Rosenbaum, Julie 1974
- Chick Corea gesels met Michael J Stewart oor sy Klavierconcerto
- Chick Corea onderhoud by NAMM Oral History Collection (2016, 2018)
- Chick Corea in die Internet-rolprentdatabasis